DIE jaarlikse Agri Megaweek word van 15 tot 17 September in Bredasdorp aangebied.
‘Voedselsekerheid in Aksie’ is die tema van vanjaar se ekspo en sal in diepte aandag geniet met die talle aanbiedings en werkwinkels wat plaasvind. Dit word ook uitgebeeld in meer as 300 landbougerigte uitstallings en demonstrasies.
Produsente en besoekers kry ook die geleentheid om skouers te skuur met die besluitnemers en invloedrykes uit die verskeie kommoditeitsorganisasies en regeringskringe. Gerrit van Rensburg, Minister van Landbou en Landelike Ontwikkeling, Wes-Kaap, woon ook die drie dae se verrigtinge by en tree as spreker by verskeie van die geleenthede op.
Mega Park spog met ’n nuwe ekspo-sentrum van 6 000 vkm - die BKB Veesentrum. Heerlik gaan daar tussen meer as 200 binnenshuise uitstallings, asook verskeie vee-ringe en demonstrasie-areas gekuier word.
Die vroue kan hulle ook gereed maak vir ’n hartlike verwelkoming met uitstallings en verskeie aanbiedings, spesiaal gerig op die vrou.
Besoekers kan uitsien na daaglikse skaaptel- en skaapskeerdemonstrasies, veteraantrekkeroptogte, skaaphond- en perdevertonings, miniatuurperdjies, ’n plaaswerf vol plaasdiere en hul kleintjies en nog ure se genotvolle kyk- en beleefdinge!
Vir meer inligting en ’n volledige program van alle gebeure, besoek www.agrimega.co.za.
Bespreek vir werkwinkels en inligtingsessies by Anne-Marie le Roux by 021-863-0070.