Kommer oor Bergrivier
2010-09-09
Lise Beyers
MET groot kommer wat onlangs uitgespreek is oor die tydelike rioolretensiedam wat langs Stokeryweg, Wellington, herleef en vergroot is, word die klem opnuut weer gelę op die bewaring van die Bergrivier. En volgens die Bergrivier Besproeiingsraad is die toestand van die rivier ’n tydbom wat wag om te ontplof indien hierdie kwessie nie ernstig aangespreek word nie. Hierdie raad monitor die kwaliteit van die water van die Bergrivier vanaf Franschhoek tot waar die rivier in die see loop by Velddrif. Water vanaf dié rivier word gebruik vir die besproeiing van ongeveer 23 000 hektaar landbougrond, en hierdie landbousektor ploeg weer miljoene rande in die plaaslike ekonomie in. Maar indien daar verdere besoedeling in die rivier plaasvind, kan miljoene rande verlore gaan, as die buitelandse mark weier om produkte vanaf hierdie gebied te koop. In die 2004/2005 seisoen was hierdie ’n werklike gevaar wat die landboubedryf in die gesig gestaar het, toe buitelandse markte gedreig het om uitvoere te staak weens besoedeling in die Bergrivier. ’n Verteenwoordiger van die Bergrivier Bespoeiingsraad se besoedelingsaksiekomitee, Jannie Kirsten, het gesę dat die ondergang van plaaslike landbou ’n werklikheid kan word weens riool wat in die rivier uitlek. “Die grootste besoedelingsgevaar is riool wat vanaf veral informele nedersettings in die rivier loop, asook stortings vanaf rioolwerke, soos wat onlangs plaasgevind het vanuit die Wellington retensiedam. “Verlede jaar het ’n groep Europese studente tydens ’n studietoer die water van die Bergrivier getoets. Hulle bevindings het gelei tot hul opsomming dat hulle ‘nie eens daarin sal swem’ nie”. “Sulke nuus in die buiteland kan veroorsaak dat daar ’n verbod in veral Europa geplaas word op ons varsprodukte. Dit kan lei tot geweldige ekonomiese verlies, asook werkloosheid.” Kirsten het gesę dat hulle gereeld in samesprekinge met die Drakenstein Munisipaliteit om rioolstorting in die rivier te keer. “Tans het ons ’n baie goeie samewerkingsooreenkoms met die hoof van hul rioolwerke, Ronald Brown. Hy is vasbeslote om soveel moontlik te doen om hierdie probleme op te los. “Ongelukkig is daar nie altyd genoegsame befondsing binne die munisipaliteit om voorsiening te maak vir die groeiende riool- behoeftes van die gemeenskap nie, dus moet daar druk gekyk word na alternatiewe befondsing.” Behalwe die negatiewe ekonomiese implikasies wat besoedeling het, is ’n ander werklike gevaar dié van gesondheid. “Onafhanklike toetsings toon dat die kwaliteit van die Bergrivierwater ver onder die internasionale standaard is, en dit hou ’n gevaar in sowel as drink- en besproeiingswater. “Die mikrobiologiese inhoud toon ’n hoë vlak van ecoli wat kan lei tot ’n uitbraak van waterverwante siektes soos cholera en tifus. “Water is ’n uiters kosbare bron en die probleem van besoedeling binne ons riviere, hou ’n erger gevaar vir ons land in as die Eskom-debakel.”
More
News
|