Gru-botsing
2010-09-09
Lise Beyers
’n OUD-JOERNALIS verkeer tans steeds in ’n ernstige toestand, ná ’n gru-botsing waarin ’n vriend dood is. Die ongeluk het Donderdag om 11:30 plaasgevind op die Hermonpad, toe die bestuurder van ’n passasiersvoertuig klaarblyklik voor ’n aankomende bus ingedraai het. Die twee insittendes van die voertuig, Hannes Malan (81) en Nico Malan (54) was onderweg na die geskiedkundige Malan-stasie om navorsing te doen oor die geskiedenis van die Malan-familie. Nico, kleinseun van die destydse Kaapse administrateur na wie hy vernoem is, is op slag dood toe die minibus die kant van die motor getref het waar hy as passasier gesit het. Hannes, oud-joernalis van Stellenbosch, is ernstig beseer en na die Paarl MediClinic geneem. Hy is die enigste kind van die voormalige eerste minister, dr DF Malan. Die eienaar van Malan-stasie, Pierre-Jeanne Gerber, het vertel dat hy op sy gaste gewag het, toe hy die tyding van die ongeluk ontvang het. “Een van my werkers het kom sê dat ek vinnig na die grootpad toe moet gaan, want daar is groot moeilikheid. Toe ek die wrak van die motor sien, het ek dadelik geweet dat dit die Malans is. “Hannes was besig om navorsing oor hul familie te doen, en hy wou by my kom hoor oor die geskiedenis van Malan-stasie.” Nico, ’n stads- en streeksbeplanner, was in die vroeë negentigerjare die burgemeester van Melkbosstrand. Hy was tans woonagtig op Stellenbosch waar hy betrokke geraak het in die eiendomsmark. Hy word oorleef deur ’n dogter, Ilse (21), wat op Stellenbosch studeer. Hannes verkeer tans steeds in ’n ernstige, maar bevredigende, toestand in die intensiewesorgeenheid by Paarl MediClinic. Hy het inwendige beserings opgedoen. Geen passasiers van die bussie is beseer nie. Gerber het bygevoeg dat hierdie stuk pad uiters gevaarlik is en dat talle noodlottige ongelukke reeds hiér plaasgevind het. *A man has been killed while another is in a serious condition, after a horror crash on the Hermon Road. They were on their way to Malan Station outside Wellington to do re- search on the family history of the Malans.
More
News
|