Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


As die kunsgogga byt, los dit nie sommer nie!

As die kunsgogga byt, los dit nie sommer nie!
 
2010-09-09

Liezl Dyson

“’n REKTOR het op kollege vir my gesê ek het nie die vaardighede vir die kunsklasse nie - maar ek het hulle verkeerd bewys.”

So vertel gerekende Paarlse kunstenaar, Jeffrey Appollis, wie se werk tans te sien is in die lente-uitstalling by die Houtstraat-kunsgalery tot die einde van die maand.

Hy het op die ouderdom van 12 jaar begin teken toe hy foto’s en spotprente nageboots het.

Toe die kunsgogga eers byt, het hy nie vir een oomblik teruggekyk nie.

Appollis, gebore in die Paarl, het jare terug besluit om sy droom na te jaag en om ’n sukses daarvan te maak.

Dié oud-leerder van Paulus Joubert Sekondêr het ná skool sy studies voortgesit by Boland Kollege in die Paarl.

“By die kollege het ek meer geleer oor keramiek, grafiese uitleg en verf.”

Dis ook op kollege waar Appollis sy eerste skildery verkoop het. Dit was vir hom baie moeilik.

“Dit was ’n stillewe wat een van my rektore wou koop. Ek was aangenaam verras, maar het dit moeilik afgegee.”

Hy het gesê dat baie mense gedink het dat dit nie wys was om hom in dié beroep te begewe nie.

“Party mense was skepties, maar ek is trots dat ek sukses behaal het en hulle gewys het waartoe ek in staat is.”

Appollis sê hy geniet dit om stillewes en landskappe te doen. Veral die vorm van Paarlberg en sy rotse inspireer hom om te verf. Hy doen sy skilderwerk vanaf sy huis waar hy vir hom ’n werkskamer ingerig het. Dis hier waar hy sy talente vir ure lank kan uitleef. Appollis se vrou Rochelene ondersteun hom ten volle en volgens hom sal hy sy babaseuntjie ook ondersteun indien dié eendag in sy pa se voetspore wil volg.


More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za