Skool tot stilstand gedwing
2010-09-09
Lise Beyers
LEERDERS sowel as leerkragte van Noorder-Paarl Sekondêr het Maandagoggend voor dooiemansdeur te staan gekom. Toe hulle aanmeld vir nog ’n week in die klaskamer, was die hek van die skoolterrein met ’n ketting en slot toegesluit. Die hulp van die polisie is ingeroep wat op hul beurt die ketting afgesny het. Leerders moes hierna eers op die skool se sportterrein wag, terwyl snuffelhonde die skoolgebou gefynkam het om te verseker dat geen verdere poetse op hulle wag nie. Omstreeks 09:00 is die skool veilig verklaar en die dag se verrigtinge kon voortgaan. Alhoewel geen stakers naby die skool teenwoordig was nie, word daar sterk vermoed dat diegene wat verantwoordelik was vir die sluiting van die skoolhek, wel verbonde is aan die staking. Dit is die eerste keer dat Noorder-Paarl Sekondêr ontwrig was tydens die staking van drie weke. Hiér het leerkragte onverpoos voortgegaan met hul werk in dié tydperk. * Vrydag is ’n protesoptog van staatsamptenare verbonde aan verskeie unies voor Paarl Hospitaal gehou. Die protes was van korte duur en daar was geen onderbrekings in aktiwiteite by die hospitaal nie. ’n “Skietstilstand” van 21 dae is vandeesweek aangekondig, waartydens stakende staatsamptenare eers na hul poste sal terugkeer om te besin oor die regering se finale aanbod van ’n verhoging van 7,5%. * Learners and teachers were locked out of Noorder Paarl High School on Monday morning, presumably by striking government workers.
More
News
|