MIS is ’n toneelstuk uit veelbekroonde dramaturg Reza de Wet se trilogie Trits en versinnebeeld die verhouding tussen ’n ma, Miem, en haar dogter, Meisie.
Mis is te sien Dinsdag 21 September om 19:30 by die Ou Meul-teater, met akteurs Esther von Waltsleben, Jan-Hendrik Opperman, Stephanie Hough en Vicky Stemmet. Die regie word behartig deur Gaerin Hauptfleisch.
Die armoedige vroue moet noodgedwonge mis versamel, verpak en as kompos verkoop om ’n bestaan te maak aangesien Miem se depressiewe man, Gabriël, homself reeds vir die afgelope sewe jaar op die solder toesluit.
Die gehoor maak kennis met die oujongnooi, Gertie, wat ’n onderwyseres is by die plaaslike skool, en die blinde konstabel wat oor die drie vroue kom waak.
Jaarliks word jong meisies op dié dorp vermis op hierdie nag, die laaste aand in Augustus. Toevallig dan dat dit saamloop met die sirkus se jaarlikse besoek aan die dorp? De Wet skep meesterlik ’n sensoriese reis, met ontwikkeling op verskeie vlakke in die magiese.
Kaartjies is R60 per persoon (R40 vir groepe van 20 of meer). Vir navrae, skakel Vicky Stemmet by 083-564-0056.