Roof-aanval op plaas
2010-09-16
Lise Beyers
MET ’n vuurwapen teen die keel, is ’n vreesbevange sekretaresse van ’n plaas buite Wellington Vrydag aangehou tydens ’n rooftog op die plaas Roodezandt naby Lady Loch. Die sekretaresse, Cornel Engelbrecht, het vanaf die dorp teruggekeer na die plaas, nadat sy sake by ’n bank gedoen het. Toe sy by die plaas inry, het sy twee mans in die pad voor haar sien staan met oranjekleurige veiligheidsbakens, wat vir onder andere padwerke gebruik word. Omdat daar tans padwerke plaasvind op die Lady Loch-pad, het sy gedink dat dit van hierdie werkers is en het stilgehou. Toe sy haar venster afdraai, het een van die mans ’n vuurwapen teen haar nek gedruk, haar uit die voertuig gedwing en met die bakkie gevlug. ’n Plaaswerker, Klaas Floors het nader gesnel nadat hy Engelbrecht se angskrete gehoor het. Hy het die voortvlugtende voertuig in die verte gesien en het dit self met ’n bakkie agternagesit. “Hulle was reeds ’n entjie voor my, maar ek het so vinnig moontlik verder gery. Net toe ek by die Lady Loch-brug kom, toe sien ek hoe die bakkie stilhou by ’n wit Toyota Venture waarin nog twee mans was. “Die diewe het die bakkie daar gelos en saam met hul makkers verder gery.” Floors het steeds die voertuig agternagesit, maar toe dit in Mbekweni afdraai, het hy die stryd gewonne gee. “Ek was nou nie bereid om verder my lewe te waag nie.” Alhoewel die mans die bakkie verlaat het, het hulle wel weggekom met ’n banksakkie met R1500 daarin. ’n Woordvoerder van die Wellington polisie, a/o Celeste Barkhuizen, het gesê dat die voortvlugtiges heelwaarskynlik voorheen vir Engelbrecht dopgehou het en geweet het dat sy dié oggend na die bank sou gaan. “Hulle het seker gedink dat sy die week se lone gaan trek het, maar sy het net ’n klein bedrag kantoorgeld gaan haal. Ons ontmoedig die publiek om groot hoeveelhede kontant te dra.” ’n Wydverspreide soektog is na die voortvlugtiges geloods, ook met die hulp van ’n polisiehelikopter, maar daar is nog geen arrestasies gemaak nie. * An armed robbery took place on a farm outside Wellington.
More
News
|