Ke Moja leer jeugdiges meer oor ’n gesonde leefstyl
2010-09-16
Liezl Dyson
KE MOJA, ’n program wat die voorkoming van alkohol- en dwelmmisbruik aanspreek onder jeugdiges, is onlangs bekend gestel aan verskeie skole in die Drakenstein-area. Volgens Justin Krieling van die Departement Maatskaplike Werk is daar ’n behoefte om op ’n bewusmakingsvlak alkohol- en dwelmmisbruik by jongmense aan te spreek. Die Ke Moja-program wat beteken “I’m Fine without Drugs” lig jongmense in oor die gevare van middelmisbruik en bied hulle ’n alternatiewe gesonde leefwyse aan. Dié program word regoor die land aangebied. Koinonia dien tans as ’n diensverskaffer vir die Departement Maatskaplike Werk en bied opleiding aan lekeraadgewers wat van spesifieke handleidings met verskeie onderwerpe gebruik maak om die program by skole aan te bied. Die projekspan van Koinonia wat in die agt skole werksaam is, staan as “coaches” bekend en poog om lewensveranderinge in die tieners se lewens te bewerkstellig. Die lekeraadgewers, wat as addisionele hulp in kom, sal onder andere terug rapporteer aan maatskaplike werkers wat dan die probleme wat raakgeloop is, na ’n geskikte organisasie sal verwys sodat leerders die nodige hulp en ondersteuning kan kry. Koinonia tesame met die departement beoog om teen Maart 11 skole te betrek. Volgens Eddie Williams, direkteur van Koinonia, het hulle aan verskeie skole in die Drakenstein-area briewe gestuur om hulle bewus te maak van Ke Moja en om te luister of hulle sou belang stel om die program by hulle skool aan te bied tydens graad ses en agt leerders se Lewensoriënteringsklas. Agt modules sal met die leerders voltooi word en leerders sal vóór en ná die program getoets word oor hul kennis van die gevare van alkohol- en dwelmmisbruik. “Die program leer jong kinders alternatiewe lewenstyle, sodat hulle kan staan teen tienerdruk,” het Williams gesê. Williams het gesê die modules sluit ook verskeie buitemuurse aktiwiteite in, sodat die leerders dit kan geniet terwyl hulle leer. Met hierdie program word daar nie net beoog om die feite van alkohol- en dwelmmisbruik aan leerders bekend te maak nie, maar ook ander sosiale probleme aan te raak. Volgens Williams moet die uitwerking ’n kettingreaksie veroorsaak, waar die skoolgaande jeug wat deur die Ke Moja-program is, ander leerders en nie-skoolgaande jeug kan inlig oor die gevare van alkohol- en dwelmmisbruik. Vir navrae oor Ke Moja, kontak Shayne Philander by 076-568-2102 of Eddie Williams by Koinonia by 076-1682-617.
More
News
|