Rugbysprokie vir Paarliet
2005-09-29
KRIEKET was sy voorliefde, maar in ’n warrelwind van gebeure is ’n Paarliet in die Springbok Amateur-rugbyspan opgeneem.
Garth Lewis sou ’n paar maande gelede nie kon droom dat hy vandag ’n rugby-Springbok sou wees nie.
Die 25-jarige Lewis het vanjaar vir Young Peoples Rugbyklub begin speel.
Hy is egter deur die oud-Paarliet en oud-Griekwaspeler, Gearus Nicholas, raakgesien.
In Mei het Nicholas hom uitgenooi om by die Gearus Nicholas Huis op Kimberley in te trek waar hy vir die Universals Rugbyklub kon speel.
Kort daarna is Lewis in die Griekwas Kudu-span (gelykstaande aan die WP Disa-span) opgeneem wat verlede maand aan die Sub-Uniale Toernooi op Langebaan deelgeneem het.
Sy vertoning hier het hom ’n uitnodiging na die Springbok Amateurspan-proewe in die sak gebring.
Twee weke gelede is dié Paarlse haker per faks ingelig dat hy in die span opgeneem is.
“Dit was ’n geweldige gevoel. Ek was oorstelp. Dit is regtig ’n groot eer om my land te verteenwoordig,” vertel die 25-jarige met ’n groot glimlag.
Hoewel hy die Springbok-span se eerste wedstryd teen Zimbabwe in Harare op die plaasvervangerbank begin het, is hy vir die laaste 20 minute op die veld gestuur.
“Daar was omtrent skoenlappers in die maag. Ek kon dit nie glo nie. Ek het nooit gedink dit sou gebeur nie, dit is soos ’n droom wat waar geword het,” vertel hy.
Snaaks genoeg was dit eerder sokker en veral krieket waarmee hy hom op hoërskool besig gehou het
“Ek het vir Klein Nederburg Sekondêr se eerste krieketspan gespeel. Na skool het ek vir Paarl-Oos Krieketklub gespeel.”
Garth se pa, Philip, het jare lank vir Young Gardens rugby gespeel en dit was hy wat hom aangemoedig het om dié ovaalbal ’n kans te gee - ’n pleidooi waaraan hy in 1999 uiteindelik antwoord gegee het. Lewis se sukses op die rugbyveld het hom egter aangespoor om voltyds op rugby te fokus.
In Januarie gaan hy vir die Griekwas se Vodacom-span proewe speel. Intussen is hy terug in die Paarl en beoog hy om tot Januarie nog as aanvangskolwer vir Paarl-Oos Krieketklub ’n paar groot tellings aan te teken.
More
News
|