Raadslid uitgejou by hof
2010-09-16
Lise Beyers
DIE strop trek al hoe stywer om die nek van ’n ANC-raadslid, nadat sy eie mense Donderdag teen hom betoog het by die Wellington Landdroshof. Johannes Thomas, Drakenstein munisipale raadslid vir Gouda, het hiér verskyn op aanklag van verkragting. Hy word deur ’n 45-jarige vrou daarvan beskuldig dat hy in Julie vir haar ’n geleentheid aangebied het op die Hermonpad, na Wellington. Die vrou beweer dat Thomas hierna van die pad afgedraai het en tussen bosse gestop het, waarna sy verkrag is. Met sy hofverskyning verlede week, is hy voor die hof begroet deur ’n groep ontstoke ANC-lede wat hardop geprotesteer het teen die beweerde voorval, asook die mishandeling van vroue in die algemeen. Die plakkate van die betogers het harde woorde gespreek, met onder andere, “wat jy n*** sal jy maai”, “dis van te veel koek eet dat hy so vet is”, “ons lewe in vrees in Gouda en wyk 31, ons kinders, ma’s en oumas is onveilig” en “women’s rights is human rights”. Colin Rens, voorsitter van wyk 31 wat buite die hof teenwoordig was, het gesê: “Hy sit die ANC van Nelson Mandela en arm mense in ’n verleentheid.” ’n Gemeenskapsvergadering is onlangs in Gouda gehou om dié aangeleentheid aan te spreek, waar daar ’n oorweldigende oproep was om Thomas van sy pos te onthef. Tans word die beweringe teen die raadslid intern deur die Drakenstein Munisipaliteit ondersoek, sowel as die provinsiale kantoor van die ANC. Dié ANC-raadslid, is voorheen betrek by ’n saak van verkragting. Hy het ook vantevore met die gereg gebots toe hy aangekla is van die aanranding van ’n vroue-kollega by ’n Swartland-pompstasie. Altwee hierdie sake is later teruggetrek. Een betoger het Vrydag gesê: “Daar moet nie toegelaat word dat hy weer hiermee wegkom nie.” Thomas verskyn weer op 27 September in die hof.
More
News
|