Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Roepstem van die see

Roepstem van die see
 
2005-09-29


’n PLAASLIKE seevaarder en sy spanmaat sal eersdaags poog om ’n nuwe rekord op te stel in die Wilde Valsbaai Uitdaagwedvaart.

Die weersomstandighede moet eers ideaal wees voordat Etienne Laubscher van Wellington en Bob Orchard van Gordonsbaai die rekordpoging met hul klein seilboot, Tomcat, kan aanpak.

Die rekord van 11 uur en 20 minute word tans deur die wêreldbekende Bertie Reed en sy seun, Stanley, gehou.

Die uitdaagwedvaart vind plaas oor die sowat 42km tussen Gordonsbaai en Simonstad.

Seilbote seil oor die bedrieglike Valsbaai en met die bote wat nie langer as ses meter mag wees, moet die bemanningslede maar op die uitkyk wees vir die groot witdoodshaaie wat in die waters rondblits.

Daarby moet jou navigasievaardighede ook op standaard wees, as jy jou pad wil oopseil tussen Seal Island en die twee rotsbanke wat weerskante van dié eiland lê.

Dié wedvaart wat die breinkind van Bertie Reed is, poog om die idee van seiljagwedvaart as ’n eksklusiewe sport te sink.

Reed hoop dat dié wedvaart met sy kleiner en bekostigbare bote ’n jonger geslag seilvaarders sal aanmoedig om in die sport mee te ding.

Daarby kan nuwelinge tot die sport dan ook die geleentheid kry om skouers te skuur met die grootkanonne van die see, en só op ’n sportiewe wyse die beginsels en kuns van seiljagvaart en seevaart aanleer.

Reed glo dat dit dalk moeiliker is om ’n klein seiljaggie te stuur as een van die groot luukse paleise wat toegerus is met die beste toerusting op die mark.

Die Tomcat-seilboot waarmee Laubscher en Orchard eersdaags die roete gaan aandurf, is dan ook die boot waarmee dié Wellingtonner en Reed die wedvaart vir die heel eerste keer in Desember 2003 aangepak het.

Dié wedvaart het omtrent in ’n avontuur ontaard toe hulle met hul terugtog, op Ou Kersdag, in onstuimige seetoestande met ’n walvis gebots het.

Die seilboot se roer het in die slag gebly en hulle moes die hulp van die Nasionale Seereddingsinstituut inroep om hulle hawe toe te sleep.

Reed het daarna eers met sy sesde probeerslag die wedvaart amptelik voltooi en die huidige rekordtyd van 11 uur 20 minute opgestel.

Sedertdien was daar nog drie pogings deur ander seilvaarders, maar hulle kon nie die wedvaart voltooi nie, weens of ’n gebrek aan wind of onstuimige seetoestande.

“Natuurlik kan ieder en elk nie net op enige gegewe oomblik op die eerste en beste bootjie spring en gaan deelneem nie. Daar is heelwat reëls en regulasies wat nagekom moet word om die wedvaart so veilig moontlik te maak,” verduidelik Laubscher wat self al vir die afgelope tien jaar kort afstande seil.

Sy boot is tans reg om te vaar en hy is op ’n 24 uur bystand.

“Sodra die weerstoestande reg is en die eerste suidweswind begin waai, spring ek van Simonstad af weg,” vertel hy.

Die wedvaartreëls bepaal verder dat ’n bemanning van slegs twee seilvaarders in daglig, met ’n enkelrompseiljag Valsbaai moet oorsteek en ’n terugtog binne 25 dae moet aanpak. Die algehele tyd word dan kumulatief bepaal.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za