Erfenisdag se Sewe-aan-'n-Kant-toernooi
2010-09-23
DIE jaarlikse Erfenisdag Sewe-’n-Kant-toernooi van die Paarl- rugbystreek, in samewerking met AC Rottweiler, Silver Solutions en Drakenstein Munisipaliteit, word op môre by die Daljosafat-sportgronde aangebied. Die kampioen Roses United sal alles in die stryd wil werp om hul titel suksesvol te verdedig en kan sterk teenstand van Young Peoples verwag. Die deelname van die debutant Wellington Rugbyklub sal met groot belangstelling dopgehou word. Paarl streekklubs sal egter wil verhoed dat die Vivian Matthee-trofee weer uit die Paarl geneem word en verlede jaar se plaatwenner, Young Gardens, sal hierdie jaar wil probeer om die trofee finaal te wen. Vineyards en Riverstones word ook as gunstelinge beskou om met die titel en prysgeld weg te loop, terwyl Paarl-klub en Rangers sal wil verbeter op verlede jaar se vertonings. Blue Stars van Klapmuts word as die buiteperd beskou en sal graag die sewe-titel by hul liga-titel van die Divisie 3-kompetisie van WPRFU wil voeg. Junior wedstryde wat spanne van Gouda en Saron insluit begin reeds om 09:00 met 16 o.12- en o.14-spanne wat sake op die buitevelde sal uitspook, terwyl die o.16-spanne op die hoofveld vanaf 09:00 kragte meet. As deel van die deelnemende klubs se gemeenskapsbetrokkenheid sal alle inkomste van die dag aan die Rusthof-ouetehuis en ander welsynorganisasies geskenk word. Toegangsgeld beloop R10. Vir verdere navrae kontak die sekretaris by 082-731-4879.
More
News
|