Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Boland-kolwers kort fokus

Boland-kolwers kort fokus
 
2005-09-29


HANTEER die druk en kry meer lopies.

Dit is die idee wat die afrigter van die Boland amateurkrieketspan, Salieg Nackerdien, vanjaar by sy spelers wil inprent.

Doeltreffende kolfwerk vir lang periodes in veral meerdaagse wedstryde was oor jare nog altyd ’n probleem vir die Boland.

Dit is egter ’n probleem waarvoor die Boland-breier naarstigtelik ’n
antwoord soek.

Nackerdien het verlede seisoen maar min te doen gehad met die Boland-span, weens sy pos as hulpafrigter by die WP/Boland franchise-span.

Vanjaar klap hy egter weer die sweep by Bolandpark Stadion en die spelers kan nie anders as om te luister nie.

“My eerste doelwit is om goed te vaar in driedagkompetisies.
As jou ingesteldheid nie dieselfde is by die oefening as in ’n wedstryd nie, gaan jy nie die mas opkom nie,” sê Nackerdien.

“In ons voorbereiding vir die seisoen het ek die spelers in druk-situasies geplaas.

“Ek het, byvoorbeeld, ’n kwaai fiksheidsessie vir ’n driekwartier, gee die spelers ’n ruskans van vyf minute, en stuur hulle dan in om te kolf.

“Nou wil ek sien hoe werk die speler in daardie toestand, wat is hul reaksies op sekere situasies en hoe vinnig reageer hulle,” sê hy en vertel hoe die kolwers in die nette met tennisrakette en balle gepepper word.

“Van die spelers se oë was net so groot, maar hulle het ná die tyd beaam dat dit ’n goeie oefening was.”

Salieg glo die spelers wat daardie bietjie ekstra gaan insit, dié spelers gaan wees wat gaan uitblink.

“’n Speler kry miskien net in die week ’n uur kans om sy kolfwerk te oefen, maar dan wil hy vierdagkrieket gaan speel. So, die spelers moet daardie iets ekskra insit, en daarom is die speel van klubkrieket so belangrik.”

Met ’n groep van 26 spelers is dit voor-die-handliggend dat daar altyd spelers gaan wees wat nie die span haal nie.

Nackerdien onderstreep dat goeie vertonings in klubverband hul plek vir hulle kan terugwen.

“Daar is tans ’n goeie gees onder spelers, hulle werk fantasies. Daar is baie kompetisie, maar die manne speel vir mekaar.”

Twee Paarl-spelers waarna daar met groot verwagting gekyk gaan word, is Hillroy Paulse en Lee-Roy Walters.

“Ek is baie entoesiasties oor Lee-Roy. Hy is ’n gutsy speler. ’n Kenmerk wat hy nou weer tydens die klubkampioenskappe in Pretoria gewys het.

“Die Paarl Krieketklub het sy eerste wedstryd verloor, maar hy het met ’n telling van 71 afgeskop. Hy is vasberade en vat ’n uitdaging aan,” het Nackerdien dié paaltjiewagter geprys.

“Hillroy het verlede jaar op die voorgrond getree vir die Amateurspan en ons sal hom goed bestuur om die beste uit hom te haal.”

Dié snelbouler het tydens die af-seisoen vir ’n Engelse klub 80 paaltjies ingeoes.

Die keuse van aanvangskolwers is iets waaroor Nackerdien nog sal moet kopkrap.

“Ek verwag van die top ses kolwers om mekaar te komplimenteer met honderdtalle regdeur die seisoen. As die een ’n afdag het, moet die ander een die lopies slaan.”

Die Boland Amateur-groep is Peter Laing, Ryno Arendse, Warren Swaan, Bardo Fransman, Shaun Phillips, Wallace Albertyn, John Loxton, Jacques van Wyk, Henri Fourie, Johathan Clark, Wiaan Smith, Warren Hayward, Shane Summers, Hennie Pietersen, Godfrey Stevens, Clifford Prinsloo, Jacques Krynauw, Nolan Loff, Wimpie Louw, Hillroy Paulse, Henley Julies, Aden Olivier, Lee-Roy Walters, Mario Olivier, Ryan Groeneveld en Pepler Sandri.

Die franchise-spelers, Henry Davids en Waylain September, is ook in die groep ingesluit.

Die Boland Amateurspan speel sy eerste wedstryd op 22 Oktober teen Grens in Oos-Londen.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za