Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kavaliers op galop

Kavaliers op galop
 
2010-09-23

Sieb Sieberhagen

DIT lyk asof al die silinders van die Boland Kavaliers begin vuur en dat die momentum wat nou opgebou word, dié span kan aanspoor om in die laaste vier plekke in die Curriebeker eersteliga te eindig. Ongelukkig is dit reeds neusie verby om vir die promosierelugasie-wedstryde te kwalifiseer. Môre speel die Boland Kavaliers teen die Grens Bulldogs in Oos-Londen.

Alhoewel hulle in een staduim die klits effens kwyt was en die SWD Arende die geleentheid gegee het om weer terug in die wedstryd te kom, het Loffie se span Vrydagmiddag ’n vyfster-vertoning op die Boland-stadion gelewer, om met 38-33 as oorwinnaars van die veld te stap.

Met Willie le Roux op sy allerbeste in die nommer tien trui, tesame met Jacquin Jansen se gevaarlike teenaanvalle vanuit die laaste vesting, het die tuisspan met een van hul beter vertonings tydens vanjaar se Curriebeker-reeks vorendag gekom.

Veral in die eerste helfte het Boland skouspelagtige rugby opgedis, om ná veertig minute gerieflik voor te loop met 27-6.

Jansen het Boland se rekening geopen met n strafdoel in die sesde minuut.

Ses minute later het SWD se losskakel, Ambrose Barends, met ’n strafdoel van sy eie geslaag, waarna hy in die twaalfde minuut nóg ’n strafdoel oorgeklits het.

Hierna het Boland meeste van die aanvalswerk gedoen en die eerste vyfpunter van die wedstryd is in die 28ste minuut deur die binnesenter Alex Kock behaal, ná ’n goeie breekslag deur Le Roux.

Jansen het in die 30ste minuut nog drie punte bygevoeg deur middel van ’n strafdoel.

Die einste Jansen het vyf minute later sy waarde vir Boland onderstreep, toe hy vanaf die middellyn deur die Arende se verdediging gedans het, om ’n briljante solo-drie te gaan druk.

Skaars twee minute later het Le Roux weer eens met ’n stukkie individuele briljantheid vorendag gekom, toe hy puik gebreek het en ’n skoppie oor die laaste verdediger se kop gesit het, net om dit self weer op te raap en te gaan druk.

Jansen het dié drie, kort voor rustyd, ook verdoel, maar dit was nie die laaste aksie van die tweede helfte nie.

SWD se Baldwin McBean het ’n gaping gevat, vyftig meter genael en ampertjies in die hoekie oorgeduik. Briljante verdediging deur Jansen en Cornal Hendricks, wat vir McBean by die hoekvlag uitgeboender het, het SWD ’n moontlike 7 punte ontneem.

Met die draaislag het SWD se Barends eerste punte aangeteken met ’n strafdoel.

Daarna was Le Roux weer op sy beste met ’n dwarsskop wat Braam Immelman by die doellyn bemeester het en oorgeval het.

SWD het meeste van die praatwerk gedoen vir die res van die tweede helfte, met drieë deur Shawn Raubenheimer, Bobby Joubert en McBean. Twee van dié drieë is aangeteken nadat Boland Kavaliers se Clemen Lewis gegeelkaart is.

Daarna het Jansen nóg ’n strafdoel behaal, met Le Roux wat die spyker finaal in SWD se doodskis geslaan het met ’n skepskop.

Die Boland Kavaliers se direkteur van afrigting, Eugene Eloff, het vier veranderinge aan sy beginspan aangebring vir môre se wedstryd teen die Grens Bulldogs in die Absa-stadion in Oos-Londen (19:00).

PJ Vermeulen is terug in die nommer dertien trui, met Cornal Hendricks wat na vleuel skuif. Brandon April is op die plaasvervangerbank. Franzel September doen weer diens op flank in die plek van Thor Halvorsen.

Op slot vervang Grant le Roux die beseerde Nikolai Blignaut (enkel). Die haker Andries Kruger vervang Clemen Lewis is in die beginspan.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za