Twee vas ná huisbraak op Boschendal
2010-09-23
TWEE mans is vasgetrek kort nadat hulle by die historiese Rhodes Cottage op Boschendal Landgoed ingebreek het. Verlede Donderdag het lede van Groot Drakenstein polisie gereageer op ’n klagte van huisbraak in aanvang op Boschendal madat ’n sekuriteitsbeampte gereageer het op ’n alarm en twee mense in die gebou betrap het. Die verdagtes het in die boorde ingevlug en die polisie se hulp is ingeroep. Die sekuriteitsbeamptes het beskrywings van die verdagtes aan die polisie deurgegee wat daartoe gelei het dat twee verdagtes deur die polisie aangekeer is ’n kilometer verder op die plaas. Daar is ook items in hulle besit gevind wat uit die gebou gesteel is. Johnny-Boy Andrews (28) en Jacobus Spoor (32) het op Maandag 20 September in die Franschhoek Landdroshof verskyn op aanklag van huisbraak en diefstal. Hulle is afkomstig van Villiersdorp en is tydelike werkers op ’n naburige plaas. * Nog ’n persoon is vandeesweek in Klapmuts in hegtenis geneem vir die onwettige besit van dagga. Dit kom enkele dae nadat drie persone verlede week agter tralies beland het vir die besit van 3kg dagga. Die bevelvoerder van sektor 1, konst Anthony Pietersen, het Maandag inligting ontvang in verband met dwelmsmokkelary by ’n woning in Meintjiesstraat. Hy het ’n lasbrief bekom om die huis te deursoek, waarna 1,5kg dagga gevind is. Monrico Robyn (29), wat voorheen met die gereg gebots het oor dwelms, is in hegtenis geneem. ’n Woordvoerder van Klapmuts, konstabel Naima Vaughan, het die publiek bedank vir hul samewerking om inligting aan hulle te verskaf.
More
News
|