PIEKNIEKLIEFHEBBERS kan weer eens uitsien na die gewilde somer-volmaanpieknieks by die Taalmonument op Paarlberg, met ’n asemrowende sonsondergang en naguitsig van die vallei.
Die eerste piekniek vind plaas op Donderdag 23 September. Die son sak om 18:43 wat sowat 15 minute van donkerte laat totdat die maan om 19:01 sy verskyning maak. ’n Begeleide toer oor die Monument sal aangebied word om 18:30 en weer om 19:30.
Volmaanpieknieks is ook geskeduleer vir 23 Oktober (sonsondergang 19:06, maanopkoms 19:46), 20 November (maanopkoms 18:35, sonsondergang 19:32) en 21 Desember (sonsondergang 19:57, maanopkoms 20:15).
Die toegangsfooi by die hek is R12 vir volwassenes, R5 vir studente en R2 vir kinders. Besoekers moet onthou om flitse en warm klere saam te bring. Veilige parkering is beskikbaar. Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjie saam te bring of om een by Volksmond Koffiewinkel te bestel by 021-863-2800.
Koffie sal te koop wees by die snoepie op die grasperk. Geen honde en vure word toegelaat nie. Die Monument sal tot 22:00 oop wees. Die Monument sal in die somerseisoen vanaf Oktober tot Maart oop wees tot 20:00. Skakel 021-872-3441 vir navrae.