Kollege se sluiting kruip al hoe nader
2010-09-23
DIT lyk soos ’n uitgemaakte saak dat geen eerstejaarstudente vir volgende jaar ingeskryf sal word by Hugenote Kollege op Wellington nie. Volgens ingeligtes is daar reeds ’n proses aan die gang wat uiteindelik sal lei tot die sluiting van hierdie kollege as onderrigsentrum vir maatskaplike werkers teen 2012, ten spyte van die feit dat hulle reeds 600 eerstejaarsaansoeke vir 2011 ontvang het. En volgens ’n amptelike persverklaring van Hugenote Kollege, het ’n herstruktuerings proses reeds begin. “Hierdie besluit is genoodsaak deur, onder andere, verskeie onsuksesvolle pogings om met openbare akademiese instellings saam te werk om steeds goedgekeurde grade, diplomas en sertifikate aan studente in 2011 uit te reik” “Ons is steeds besig om oplossings te vind om in 2011 met die bestaande akademiese aanbod te kan voortgaan Maar volgens talle personeellede, wat verkies om anoniem te bly weens vrees vir vroegtydige afdanking, wys hulle die vinger eerder na die raad van die kollege, wat volgens hulle “’n verskuilde agenda” het om die deure van die kollege te laat sluit. Die Departement van Hoër Onderwys het hul akkreditasie wat met die Universiteit van Stellenbosch (US) beoog was, afgekeur. Dus word vrae nou gevra waarom die kollegeraad in die eerste plek die kollege as ’n private maatskappy laat registreer het. Dit is juis weens hierdie struikelblok dat die samewerkingsooreenkoms tussen hulle en US afgekeur is. “Volgens ons is die bestuur en raad totaal en al disfunksioneel. Geen poging word deur hulle aangewend om die kollege te red nie. Die privaatmaatskappy is geskep sonder dat hierdie besluit enigsins deurdink is.” Verder voer personeel aan dat hierdie besluit ’n slagveld vir personeel en studente was. Nie net sal studente vanaf volgende jaar hul studies op Stellenbosch moet voortsit nie, maar sowat 70 personeellede kan hul werk verloor. Eerstejaarstudente voel asof hulle in ’n woestyn beland het weens hierdie dreigende gevaar en hulle voer aan dat hulle besluit het om by HK te studeer, nie by die US nie. Die vise-rektor van Hugenote Kollege bevind hom tans oorsee saam met die voorsitter van die kollegeraad - moontlik om navorsing te doen oor alternatiewe gebruike van die kollege as private opleidingsinstansie vir kerkdoeleindes.
More
News
|