Kommer oor misdaadstatistieke
2010-09-23
DIE bestuur van plaaslike polisiestasies gaan dringend koppe bymekaar moet sit om hul misdaadbekampingstrategieë te hersien. Dit is die duidelike boodskap wat uitgestuur word nadat die Suid-Afrikaanse Polisie se misdaadstatistieke onlangs bekend geword het. Volgens hierdie statistieke, is daar ’n kommerwekkende styging in misdaad in Paarl, Paarl-Oos, Mbekweni en Wellington. Die statistieke behels die tydperk tussen April 2009 tot en met Maart 2010. Alhoewel gevalle van moord in die geheel gedaal het, het talle ander ernstige misdade soos huisrooftogte, seksuele misdade en aanrandings gestyg. Dit was veral die afgelope jaar in die Paarl-gebied baie duidelik dat Paarliete geteiken word deur gewapende rowers. Hiér het daar 11 huisrowe plaasgevind teenoor slegs een vir die tydperk 2008/2009. In Wellington was daar drie huisrowe, teenoor geen in die vorige boekjaar, en in Paarl-Oos vier teenoor slegs een in 2008/2009. Hierdie huisrowe het ook dikwels met geweld gepaard gegaan. Een slagoffer hiervan is verlam gelaat, terwyl ’n jong man in ’n ander voorval verskeie meswonde opgedoen het. In die Paarl het seksuele misdade, wat hoofsaaklik bestaan uit verkragtings, byna verdriedubbel, met 136 sulke gevalle wat by die polisiestasie gerapporteer is, teenoor 56 in die vorige boekjaar. In Wellington en Paarl-Oos het hierdie misdade verdubbel. Ook inbrake by huise en voertuie het drasties gestyg, asook aanrandings. Dit bring ook na vore vrae oor die egtheid van vorige misdaadstatistieke. Daar is reeds breedvoerig berig oor die ondersoek wat steeds aan die gang is na die knoeiery van misdaadstatistieke vanaf 2007 tot 2009 by onder andere Paarl polisiestasie. Tydens hierdie beweerde knoeiery is talle sake van veral seksuele misdade na bewering nooit ondersoek nie, of selfs nie eens aangeteken deur polisiebeamptes nie. Ander misdade soos huisbraak en bedrog is ook na bewering as minder ernstige misdade aangeteken. Die huidige gebiedsbevelvoerder van die area wat Paarl, Wellington, Paarl-Oos en Mbekweni insluit, brigadier Vincent Beaton, het gesê dat die negatiewe misdaadstatistieke met ’n ystervuis beveg sal word. “Die statistieke lyk nie so goed as wat ons verwag het nie. “Ons het dadelike maatreëls in plek gesit om veral sigbare polisiëring op te skerp. “Ons beskik oor net soveel mannekrag en maak ook staat op die publiek om ons te help met die bekamping van misdaad. “Met huisbrake en diefstal vanuit voertuie, vind ons dikwels met die ondersoek dat die publiek nalatig was. Ons vra dus dat die publiek te alle tye bewus moet wees van hul en hul eiendom se veiligheid.”
More
News
|