Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Feespret skop af

Feespret skop af
 
2010-09-23


DIS weer feestyd in die Paarl met die jaarlikse Cultivaria-kunstefees. Musiekliefhebbers kan uitsien na die terugkeer van die hooffeesproduksie Tydloos met musieksterre Jannie Moolman, Kevin Leo, André Schwartz, Arina de Witt en Rina Hugo.

Die glansproduksie Tydloos Encore is spesiaal vir Cultivaria geskryf deur Leon van Nierop en bevat uittreksels van die mees gewilde liedjies uit vorige vertonings.

Soos in die verlede beloof Tydloos Encore om een van die feeshoogtepunte te wees met ‘n wye verskeidenheid solo’s, duette en meesleurende samesang deur hierdie groep talentvolle kunstenaars.

Silwerdoektreffers, romantiese ballades, kenwysies van musiekblyspele tot ruk-en-rol treffers maak deel uit van die musikale skouspel.

Immergroen wenners soos Unchained Melody, Music of the Night, Nessun Dorma en Phantom of the Opera vorm deel van die musieklys.

Die samestelling van Tydloos Encore is ’n keurspel van aangrypende musiek en sal soos met vorige jare gehore op hulle voete hê.

Tydloos Encore word saamgestel deur musikale direkteur en pianis Matthys Maree en word begelei deur ’n orkes van die land se voorste musikante.

Slegs drie vertonings van Tydloos Encore word tydens vanjaar se fees aangebied en belangstellendes word aangemoedig om so gou as moontlik kaartjies te koop om teleurstelling te vermy.

Kaartjies kan aanlyn by www.cultivaria.com bespreek word. Slegs kredietkaartbetalings word aanvaar. Kontantbetalings kan by die feeskantoor gedoen word.

Langtafeldinee

Vanjaar se Cultivaria-fees skop vanaand af met die Bovril langtafeldinee, gevolg deur van die land se top kunstenaars wat oor die naweek hulle buiging op die Cultivaria verhoë maak by verskeie lokale regdeur die dorp.

Die stampvol program bied ’n fees vir die sintuie met verskillende musiekproduksies, teateropvoerings, dansuitvoerings, komedie, klassieke musiek en kuns.

Die Heinz Emporium by Faure-stadion is weer eens die beste plek om te ontspan tussen vertonings en heerlike wyne en versnaperinge te geniet.

Besoekers moet verseker hulle beursies byderhand hou, aangesien verskeie stalletjies kuns- en handwerk produkte sowel as juweliersware te koop aanbied.

Toegang tot die Heinz Emporium word gratis ingesluit by die aankoop van enige Cultivaria-produksiekaartjie op dieselfde dag. Kaartjies is ook by die hekke beskikbaar teen R10 per persoon.

Vanjaar se emporium spog met ’n groot oopplan onthaalarea sowel as die Bokomo kombuis, waar besoekers kan leer om enigiets van ontbyt tot deftige aandetes voor te berei met die nuutste Bokomo produkreekse.

Koskenners

TV-sjef en kookboekskrywer Sonia Cabano sal daagliks agter die kospotte inskuif saam met plaaslike koskenners soos Johan Bakkes en Dine van Zyl vir gratis kookdemonstrasies.

Dan kan feesgangers ook hulle gunstelingkunstenaars van nader leer ken wanneer skrywer Johan Bakkes saam met hulle kuier op die Tygerburger Heinz Onderhoudverhoog. Bakkes gesels onder andere met die sterre van die feesproduksie Tydloos, komediant Rian van Heerden, skrywer PG du Plessis, Dowwe Dolla en Chris Chameleon oor hulle nuutste produksies en wedervaringe.

Die jongspan kan hulle eie jeugprogram geniet met opvoerings, musiek en pretaktiwiteite in die Liqui-Fruit kinderteater by La Rochelle.

Vanjaar se kinderteater het ’n splinternuwe fliekhoekie en Wii-stelsel om die kleingoed besig te hou in geval van reënweer. ’n Spesiale vertoning van Wielie Walie vertel van geliefde karaktertjies soos Sarel Seemonster, Karel Kraai en Bennie Boekwurm se nuutste kaskenades.

Toesig en streng sekuriteit word verskaf en ouers kan met geruste harte die produksies geniet, terwyl die kleinspan baljaar.

Vir tieners is daar ook etlike vertonings om na uit te sien. Pop-rock sensasie aKING is te sien vir ’n eenmalige vertoning in die Liqui-Cooler Saal (La Rochelle Hoërskool), terwyl die ongelooflike à capella groep Navi Redd ook terugkeer met ’n splinternuwe produksie. Sangeres Louise Carver sal liedjies van haar nuutste CD Look to the Edge asook ander nommer een treffers tydens haar vertoning opvoer en die instrumentele supergroep Sterling EQ is te sien in twee sensasionele optredes.

Bespreek by www.cultivaria.com of besoek die stadsaal ((021-872-9754).




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za