DIE jongspan kan vanjaar heerlik kuier by die Cultivaria-kunstefees met ’n opwindende kinderprogram. Die Liqui-Fruit kinderteater by La Rochelle se koshuis spog vanaf 24 tot 26 September met ’n aksiebelaaide kinder-vriendelike program om die jongspan te vermaak.
Die kinderteater is daagliks vanaf 09:30 tot 18:00 oop en geskik vir kinders tussen die ouderdomme van 4 en 12 jaar.
Narre, buiksprekers, poppekas en gunstelingsprokies soos Wolf en die Drie Varkies, Sneeuwitjie en die Sewe Dwergies, Aspoestertjie en Rooikappie vorm deel van die program.
Daar is lekker buitelug-aktiwiteite op die speelterrein met swaaie, hindernisbaan en klimmuur, terwyl organiseerders ’n spesiale fliekhoekie en WII zone ingerig het in geval van reënerige weer.
Gesigverf, kuns en handwerk word reg deur die dag gedoen. Toesig en streng sekuriteit word verskaf en ouers kan met geruste harte die produksies geniet, terwyl die kleinspan baljaar.
Toegang is R50 per kind per dag, wat alle vertonings en vermaak insluit. Kaartjies kan aanlyn by www.cultivaria.com of by die ingang na die kinderteater verkry word.
Dan maak die geliefde karaktertjies van Wielie Walie ook ’n draai in die Paarl met twee spesiale vertonings by La Rochelle Laerskool.
Moenie hierdie vrolike opvoering oor Sarel Seemonster, Karel Kraai en Bennie Boekwurm se nuutste kaskenades misloop nie. Die kleinspan sal skater vir die lekker nuwe stories, grappies en liedjies en selfs ’n nuwe maatjie in Kwaggatjie ontmoet.
Wiele Walie is te sien Vrydag om 09:30 en Saterdag om 10:00. Kaartjies kan aanlyn bespreek word en is ook beskikbaar by die feeskantoor langs die Paarl stadsaal.