AS ’n onbekende stem aan die anderkant jou formeel op jou naam en van aanspreek weet jy - nou gaan daar weer iets aan jou gesmous word soos ’n vakansieklub, ’n persoonlike lening of versekering.
Van Sondag 24 Oktober af sal verbruikers egter die reg hê om ongevraagde bemarkers aan te sê om alle kontakbesonderhede te verwyder van die betrokke maatskappy se databasis én om die verbruiker nooit weer te bel nie.
Dít, ingevolge die nuwe Wet op Beskerming van Verbruikers, wat dan van krag word.
Die wet hou verskeie voordele in, onder meer dat kontrakte gesluit vir ’n sekere tydperk soos met selfoonmaatskappye of gimnasiums, nie outomaties hernieu mag word indien die verbruiker dit nie skriftelik gekanselleer het nie.
Dit mag slegs hernieu word indien die verbruiker skriftelik toestem.
Inteendeel, verbruikers sal vyf dae hê om enige kontrak te kanselleer of produkte terug te neem, waarna ’n maatskappy die verbruiker se geld binne 15 dae sal moet terugbetaal.
Die wet bepaal dat maatskappye in maklik-verstaanbare taal met verbruikers moet kommunikeer hetsy in advertensies, mediaverklarings of in kontrakte se fynskrif (terme en voorwaardes).
Die maatskappy moet verseker dat die verbruiker dié fynskrif verstaan voordat kontrakte onderteken mag word.
Maatskappye sal moet sorg dat toegang tot en gehalte van inligting vrylik beskikbaar is om ’n verbruiker in staat te stel om ’n ingeligte besluit te neem.
’n Hof mag byvoorbeeld bepaal dat ’n kontrak onregverdig opgestel is indien die verskaffer die verbruiker se onvermoë om die taal van die ooreenkoms te verstaan, uitgebuit het.
Ook moet verskaffers en diensverskaffers eers met verbruikers wat kontrakte met hulle het kommunikeer, voordat pryse mag aangepas word.
Die wet hanteer staatsinstellings op dieselfde manier as ondernemings – munisipaliteite moet dus in dieselfde mate deur verbruikers tot verantwoording geroep word as enige ander onderneming wat ’n produk of diens verskaf.
Die wet gaan regeringsinstellings, veral munisipaliteite, en maatskappye verantwoordelik hou.
Verbruikers word ook in die wet beskerm teen bedrieglike aanbiedinge en skemas (vermenigvuldiging-, kettingbrief- en piramide-bevordering) wat ná 24 Oktober onwettig is en as skadelike sakepraktyke beskou sal word.
Stuur jóú verbruikersklagte na edit@paarlpost.co.za of die Redakteur, Posbus 409, Paarl 7620.