Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Paarl in die 1940's

Paarl in die 1940's
 
2010-09-23


EK lees op die oomblik Karel Schoeman se outobiografie “Die Laaste Afrikaanse Boek”, nadat iemand vir my genoem het dat die skrywer ’n hele paar jaar in die Paarl gewoon het.

Sy herinneringe van die Paarl gee ’n nostalgiese blik op ’n plattelandse dorp wat toe ’n totale bevolking van net 30 000 mense gehad het.

Die eerste wat my getref het, was sy kommentaar oor die bou van die Dutoitskloofpas. Dis algemene kennis dat Italiaanse krygsgevangenisse die pas tydens die Tweede Wêreldoorlog gebou het, maar nooit het ek daaraan gedink dat die vallei daagliks weergalm het soos hulle rotse met dinamiet losgeskiet het.

Dit was ook ’n tyd van teekamers wat mixed grills, fruit lunches, ice-cream sodas en banana splits bedien het. Almal het nie motors gehad nie, en baie mense het fiets gery. Perde en kapkarre was nog op straat te sien.

Schoeman skryf dat daar ’n slagter in Noorder-Paarl was wat nog met ’n perdekar vleis afgelewer het. Die perdekar was met lang seildoeke bedek. Vroegoggend het ’n perdekar ook van huis tot huis melk afgelewer. Eselwaens het in die woonbuurte dennebolle en brandhout verkoop.

In die 1940s was die Taalmuseum ’n hotel met die naam Westfalen. Die dorp se tennisbane wat langs die Toringkerk was, is vandag ’n parkeerruimte agter Checkers.

Die klein dieretuin in Victoriapark met sy apies, voëls en ystervarke is lank reeds verwyder, en nou is daar selfs sprake dat die park ’n parkeerarea gaan word.

In 1950, skryf hy, is ’n dubbelverdiepinghuis in ’n Georgiaanse boustyl op die hoek van Hout- en Hoofstraat gesloop.

Nog ’n gebou wat gesloop is, was die algemene handelaar M Wisnekowitz wat op die hoek van Auret- en Hoofstraat was. Die winkel het aan Bella Wisnekowitz behoort en haar suster Esther het ’n soortgelyke winkel in Lady Greystraat gehad. Hy skryf dat die twee susters gewoon het in ’n dubbelverdiepinghuis in Patriotstraat.

As kind het Schoeman dikwels daar onder die toonbank in M Wisnekowitz gesit en speel en hy onthou goed die rolle matriaal, hoede, kinderspeelgoed en -boeke. Die gebou is later gesloop om plek te maak vir die toeriste-inligtingsentrum.

Ander bakens soos die inmaakfabriek H Jones in Suider-Paarl het verdwyn. So ook die donker rooi silo’s van die White Star meul by die spoorwegbrug in Huguenot.

Rembrandt wat sigarette gemaak het en in 1948 by die Lady Greystraat-brug oopgemaak het, is nou ook iets van die verlede.

Schoeman se ma het vir die prokureursfirma Faure & Faure gewerk. Volgens sy beskrywing was die kantore destyds tussen die Heemkring en die ou Standard Bank in Hoofstraat. Voor die kantore was ’n groot akkerboom met ’n ysterpaal waaraan mense hulle perde vasgemaak het.

Sy eerste kennismaking met die Paarl se skole was die Lyndale Kindergarten van mev Zuidmeer en haar dogter Elsa.

Die skool het tussen twintig en dertig leerlinge gehad en het drie vertrekke in hulle huis op die hoek van Hoof- en Patriotstraat opgeneem. Later is hy na WA Joubert Laerskool, wat toe ’n nuwe skool was.

Schoeman skryf dat hulle woonhuis in VierdeLaan was - die enigste tussen die omliggende erwe se groentetuine, en dat daar toe nog heelwat jakaranda- en bloekombome was. Een van die bure het koeie gehad en die beeste laat wei in ’n veld waarop Klein Boishaai later gebou is.

Vierde Laan het toe gegrens aan die Ou Tuin, ’n gemengde woongebied wat gestrek het van Hofstraat, oor Markstraat tot in Bredastraat. Hy skryf oor die Roxy bioskoop en die Altona Hotel. Hierdie hele gebied is gesloop onder die vaandel van die Groepsgebiedewet.

Karel Schoeman se beskrywing van die Paarl van sy kinderjare is ’n klein deel van ’n groot volume werk, maar tog is dit vir my as ’n inwoner van die dorp kosbaar. Mens besef net weer dat persoonlike herinneringe nie, soos ’n ou gebou, dekades later weer gerestoureer kan word nie.




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za