DIE Kaap Agri Akademie bied verskeie kursusse aan in landbou. Een van die studente van dié akademie, Anthony Cloete, is onlangs aangewys as Agriseta se beste student van 2009 en het R10 000 losgeslaan.
Cloete, ’n kleinboer van Porterville, was die beste student van die Kaap Agri Akademie se Boerdery Ontwikkelingsprogram van 2009. Kaap Agri het sy Akademie se deure in 2009 te Porterville geopen in die hoofgebou van die destydse Boland Agri. Hulle bied opleiding ook op satellietbasis aan by ander bedryfspunte in die Boland.
Die Akademie het verlede jaar 27 nuwe boere geïdentifiseer om sy Boerdery-ontwikkelingsprogram te deurloop.
Buiten die 19 nuwe boere wat gedurende 2010 die Boerdery Ontwikkelingsprogram suksesvol afgelê het, het die Kaap Agri Akademie ook vanjaar begin met die opleiding van plaaswerkers.
Kursusse word onder andere aangebied in trekkerinstandhouding, noodhulp, toesighouding, hantering van chemiese middels en spuitpompe. Gedurende 2011 sal die kursusreeks verder uitgebrei word.Rig navrae aan Lerina Nel by 022-931-8200.
) By dieselfde geleentheid het Kaap Agri die toekenning gekry in die kategorie as die Beste Werkgewer van die Jaar (Leerlingskappe) uit 17 000 besighede.
Kaap Agri is die eerste landboudienstegroep in Suid-Afrika wat in samewerking met CVS Kolleges met leerlingskappe in die landbou begin het. Kaap Agri was ook betrokke by die ontwikkeling van NQF 2 en NQF 4 leerlingskappe en in 2005 is die eerste leerlingskappe geïmplementeer.
Uit Kaap Agri se totaal van 1 492 werknemers, het 288 werknemers sedertdien leerlingskappe voltooi, en word daar in die huidige jaar 64 werknemers in leerlingskappe opgelei.
Die Maatskappy het ook ’n Bestuurskwekelingprogram as ’n eerste by die Agriseta geregistreer en verskeie voornemende bestuurders deurloop jaarliks hierdie program in diens by Kaap Agri.