Leerkrag sterf toe hy pad oorsteek
2010-10-02
''n BEKENDE leerkrag van Wellington is Vrydagaand dood nadat hy deur ’n motor getref is in Champagnestraat. Frikkie Adams (54), beter bekend as Basie, het dié dag besoek afgelê by vriende. Toe hy omstreeks 22:30 onderweg was na sy huis in Dreydenstraat, het hy voor die wiele van ’n aankomende motor beland. Die bestuurder van die voertuig het aan polisie vertel dat Adams eers teruggestap het toe hy die motor sien aankom het, maar dat hy toe op die nippertjie oor die pad geloop het. Hy is op die toneel dood. Adams se vrou, Manedur, het gesê dat sy reeds geslaap het toe ’n buurman haar wakker geklop het. “Ek het dadelik na die toneel gehardloop. Dit het gelyk asof Basie nog geleef het, maar kort daarna het hy sy laaste asem uitgeblaas.” Adams is deur sy kollegas beskryf as ’n wiskunde-‘ikoon’. Hy was gewild onder sy leerders en toegewyd in sy vak. Hy het by Hillcrest Primêr skoolgegee en was vantevore betrokke by Paul Gedenk en Wamakersvallei Laerskole. Adams se begrafnis vind Saterdag om 10:00 vanuit die huis te Dreydenstraat 12 plaas, en daarna om 11:00 vanaf die VGK Wellington.
More
News
|