Twee sterf in vlamme
2010-10-02
TWEE mans het Saterdag in Lanquedoc doodgebrand toe die houthuis waarin hulle gewoon het, aan die brand geraak het. “Ek het wakker geword met die verskriklikste gille wat ek nog ooit gehoor het.” Só vertel Johannes Zimba nadat hy in die vroeë oggendure van Saterdag wakker geword het met die angsgille van twee mans wat vasgekeer was in die brandende houthuis. Die brand het kort voor 02:00 ontstaan terwyl die mans vermoedelik geslaap het. Die brand het versprei na Zimba se huis, maar hy en sy gesin het daarin geslaag om na buite te ontsnap. “Toe ek buite kom, het iemand nog van binne geskree, maar die vlamme was so hoog dat ek nie naby aan die huis kon kom nie. “En die kraan teenaan my huis was te naby aan die brandende hok, so ek kon nie eens die brand daarmee probeer blus nie.” Met die aankoms van die brandweer is die vuur geblus en die lyke van Jan Nel (38) en Pieter Williams (34) is verkool aangetref op ’n bed. “Ek vermoed dat die brand veroorsaak is deur ’n kers wat nie geblus is nie. “Die twee het maar skaars ’n week voor die voorval hier aan my deur geklop op soek na blyplek. Hulle het vanaf Ceres hierheen gekom om as loswerkers op ’n plaas hier naby te werk.” Al Zimba se besittings binne sy huis is totaal vernietig. Hy en sy familie gaan nou tuis in ’n houthuis by sy bure terwyl hy wag vir antwoorde van die Stellenbosse munisipaliteit oor wie sy huis nou sal herstel. * Two men burnt to death in a home in Lanquedoc on Saturday
More
News
|