Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Die swart tas - en wat daarvan geword het

Die swart tas - en wat daarvan geword het
 
2010-10-02


DIS ’n grou Donderdagnamiddag aan die begin van die September-skoolvakansie en dis ’n besige langnaweek. Om half vier vertrek twee jongmense met ’n bakkievol bagasie en ’n hond vir die naweek Weskus toe. Deel van die bagasie is ’n swart tas met wielietjies en ’n handvatsel.

In hierdie swart tas is al my dogter se jongmeisie drome, haar lewe – rokkies versigtig versamel in haar eerste werksjaar, haar gunsteling skoene en onvervangbare sentimentele juweliersware – elke item uniek met sy eie storie.

’n Halfuur later, op pad uit Malmesbury na die Weskus, word hul deur ’n verbyganger bewusgemaak dat daar fout agterop die bakkie is. By nadere ondersoek is die bakkie se agterste flap oop en die swart tas weg.

Op enige deel van die nat, besige pad, van die Paarl tot anderkant Malmesbury, kon hierdie tas afgeval, en van eienaar verwissel het. ’n Koorsagtige soektog en gebede begin. Hulle ry vanaf Malmesbury en ek vanaf die Paarl. Ongeduldige naweek- en vakansiegangers duld nie stadige ryers wat op soek is na ’n swart tas met ’n lewe in nie.

Met almal tasloos moedeloos terug in die Paarl, word alle polisiestasies in die omgewing van die twee dorpe gekontak – niemand het enige nuus oor die swart tas nie.

Die kinders gaan terug na die polisiekantoor op Malmesbury om iewers te probeer sin maak uit dít wat met hulle gebeur het. ’n Lys van die inhoud van die tas ontaard in die neerskryf van die inhoud van ’n lewe – met mooi en hartseer oomblikke wat nog meer trane tot gevolg het.

Hoe kan mens vir die Here vra om jou te help om ’n swart tas op so ’n besige naweek te soek – met so ’n lang uitgestrekte pad met toue motors waar enige deel van die pad, ’n potensiële afvalplek kan wees.

Skuins voor agtuur die koue aand, kry ek ’n oproep op ons huistelefoon van ene Louis Nel om te vra of ek ’n dogter Cara het.

Louis vertel dat hy ’n swart tas waarin hy my kind se naam en adres gekry het, in sy besit het in Mollstraat 84, Paarl. Gebedsverhoring, verligting, ongeloof, verbasing speel in flitse deur my verdwaasde kop.

My kind en haar besorgde vriend sit steeds in die koue polisiekantoor in Malmesbury en wag om haar verlies van haar tas as ’n saak aan te meld. Met jubelende vingers skakel ek haar telefoonnommer en met ewe veel ongeloof luister sy na my. Hulle draai terug Paarl toe.

In ’n tyd waarin ons deur ons land se omstandighede gekondisioneer is om ons medemens te vrees en te wantrou, ontvou agtuur daardie aand in Mollstraat 84, Paarl die verhaal van die swart tas - geloof, hoop en liefde.

Louis Nel was skuins ná halfvier op pad in die Paarlse Hoofstraat toe hy die swart tas in die middel van die Hoofstraat sien en ’n vrou wat daar naby staan en wag hou.

Hy het die besige Hoofstraat-verkeer gestop, en Magdelena het die swaar tas uit die Hoofstraat gesleep. Sy werk daar naby en het so pas van diens gekom toe ’n bakkie vanuit die systraat in die Hoofstraat indraai, en die swart tas in die Hoofstraat val.

Sy het die tas vanaf die sypaadjie bewaak totdat ’n weldoener in die vorm van Louis Nel op daardie oomblik tot haar redding kom en haar kon help om die tas na veiligheid te bring. Die bedagsame Louis het Magdelena se kontakbesonderhede geneem sodat ons haar kon bedank.

Teen nege-uur die aand is die swart tas terug op die bakkie ná vyf en ’n halwe ure.

My kind se drome en lewe is veilig en ongeskonde aan haar terugbesorg deur gewone mense wat omgee – mense sonder wie ons op daardie spesifieke dag veel armer sou wees.

Ons het nie net ’n tas teruggekry nie, ons het versterkte geloof in ons Hemelse Vader en vertroue in ons medemens as die grootste geskenk op hierdie Donderdag ontvang.

Saam met haar swart tas, wil ons vir Cara die waardevolle geskenk van geloof en vertroue saamgee op haar lewensreis.

Lydia Corbett




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za