Oosthuizen skitter in Bainskloof Ultra
2010-10-02
DIE gunsteling van die Bainskloof Ultramarathon, Johan Oosthuizen van Wellington wat verlede jaar tweede geëindig het, het vanjaar nie teleurgestel nie. Hy het die wedloop in ’n tyd van 4:16:32 gewen met Mervin Steenkamp tweede en nog ’n Wellingtonner, Owen Smith, derde. Atlete wat aan die 4de Bainskloof ultra- en halfmarathon deelgeneem het, is hierdie jaar bederf met ’n perfekte lentedag. Die 63 ultra-atlete asook die nagenoeg 413 halfmarathon en 6-km buksiedrawwers was elkeen deel van die 155ste bestaansjaarvieringe van die Bainskloofpas. Perfekte toestande het geheers teen die tyd wat atlete ná 15 km die hoogste punt van die pas bereik het en helder bergstroompies, danksy die vorige dag se reën, het gehelp om lafenis te bied aan atlete. Met die verbysteek van Tweede Tol het ’n plat roete van 9km voorgelê voordat die draaipunt bereik is. Met die tweede deel van die wedloop moes atlete diep delf om gemotiveerd te bly en die wedloop te voltooi. In die vroue-wedloop het Martha Pretorius eerste geëindig (5:54:49) en Anne Pool tweede. Die halfmarathon-atlete het ook Bainskloof se byt gevoel met die 10,5 km pas op, wat aan meer as een atleet respek vir dié helling gegee het. Sithyhilo Diko was die eerste man in die 21,1km wedloop oor die lyn in ’n tyd van 01:06:03 en Mariette Esterhuyse (01:27:13) die eerste vroue-atleet. Die 6 km pretdraf het by Bovleikelder gedraai.
More
News
|