Begaafde sport-ster hou voete op die grond
2010-10-02
OM sportmal te wees is een ding, maar om sportmal en begaaf te wees, is iets heeltemal anders. Dit is presies waar Darren Papier, 15-jarige leerder en sport-ster van Boishaai hom bevind. Hy is Paarl Post/Let’s Play se Sportster vir September. Maar wat opvallend is, is die feit dat dié kranige atleet, krieket- en rugbyspeler sy voete stewig op moeder aarde het, en dat hy deeglik bewus is van waar sy krag vandaan kom. Om op tienjarige ouderdom reeds ’n honderdtal met die wilgerlat te slaan, die 200m as 15-jarige in 22,57 af te blits en nou vir die WP elite o.15-rugbygroep aan ’n oefenkamp deel te neem, is maar net ’n paar van sy verskeie prestasies. Maar die groot vraag is wat is Darren se groot liefde in sport. Rugby, atletiek of krieket? Hy vertel dat hy kleintyd moes uithaal om saam met sy maatjies te hardloop, maar vanaf 11-jarige ouderdom het hy die bordjies verhang en is hy deesdae ’n uithaler-naelloper in die 100m en 200m. Hy het vanjaar aan die SA’s deelgeneem en was derde in die 200 (22,57) en 6de in die 100m (11,17) in sy ouderdomsgroep. Die WP o.15 seuns aflosspan, waarvan hy lid was, spog met die goue medalje. In krieket blink hy uit as naatbouler en as nommer 4 kolwer en het in 2009 en 2010 die o.15 Boland-krieketspan verteenwoordig. Behalwe puik vertonings met die kolf het hy ook al in een beurt 6 paaltjies laat kantel. In sy o.13-jaar het hy reeds WP-rugby verteenwoordig tydens Cravenweek en vanjaar het hy reeds die oog as losskakel gevang om na die WP se elite-oefenkamp uitgenooi te word. Darren, so beskeie soos hy is, het nie eens genoem dat hy sy skool se o.15 krieket- en rugbykaptein is nie, maar maak geen geheim daarvan dat sy rolmodel in rugby, Johnny Wilkinson is, die Engelse skerpskutter en planmaker. En die afleiding is reg. Darren is versot op rugby en sal oor ’n jaar of twee besluit of dit krieket of rugby sal wees waarop hy hom gaan toespits, maar as ’n mens kyk na die vonkel in sy oog as hy gesels oor rugbydinge soos visie op die veld, om die spel te lees, skopwerk en hardlooprugby, wil ’n mens jou kop op ’n blok sit dat hy sy droom om die Springboktrui oor die kop te trek, iewers in die toekoms sal verwesenlik.
More
News
|