Huis omskep in alzheimer-eenheid
2010-10-02
STONEY BROKE, die pragtig-gerestoureerde opstal op die terrein van ACVV Huis Vergenoegd geleë in Zionstraat, Paarl, word eersdaags omskep in ’n huis waar persone met Alzheimer/Dementia 24 uur per dag versorg word deur kundige professionele verpleegpersoneel en versorgers. Die huis word vernoem na een van die stigterslede van Huis Vergenoegd, Ina Rens, wie se jarelange droom dit was om Stoney Broke in ’n Alzheimer-eenheid te omskep. Die atmosfeer in die huis beloof om ontspanne en huislik te wees. Inwoners kan die ruim sitkamer, sonkamer en tuin geniet wat ten volle beveilig is. Stimulerende aktiwiteite sal aangebied word na gelang van die behoefte en potensiaal van die inwoners. Huis Ina Rens bied versorging vir 14 persone aan in die begin- en middelfase van Alzheimer/Dementia. In die laaste fase word hulle oorgeplaas na die Huis Vergenoegd Verpleegsorgsentrum. Dagsorg vir ouer persone wat tuis deur familie versorg word, is ook deel van die gemeenskapsdiens van Huis Ina Rens. Dit is ’n uitbreiding/aanvulling van die bestaande dienste van Huis Vergenoegd se wooneenhede, dienssentrum en verpleegsorgsentrum, en word bestuur deur die Beheerraad van Huis Vergenoegd as ’n nie-winsgewende organisasie (NPO 011-721). Navrae kan gerig word aan die bestuurder Jeanette Fisher (021-870-3311 of hvg3@lando.co.za) gedurende kantoorure.
More
News
|