Pasop vir dié eposse
2010-10-02
GEEN bank in die land kontak sy kliënte per e-pos nie. Nooit nie. Dus kan elke e-pos wat voorgee, met die “regte” logos en al, om kommunikasie van ’n bank af te wees, onmiddellik geskrap word, sonder dat verbruikers twee keer daaroor hoef te dink. Volgens Hannes Rossouw, ’n takbestuurder van Standard Bank, bedink die kriminele agter die bedrieglike bank-e-posse, wat al daartoe gelei het dat klante se rekeninge leeggetrek word, elke dag iets nuut. E-posse wat handel oor Standard Bank kan aangestuur word na secure@standardbank.co.za waarna die betrokke webbladsye dan toegemaak word.Die kriminele bly egter die banke een voor, het Rossouw gesê, deurdat hulle elke dag met ’n nuwe soort e-pos vorendag kom. Die geheim vir verbruikers is om nie op énige skakel (link) in bank-e-posse te kliek nie. Die kriminele vra persoonlike besonderhede soos ’n pinnommer en verbruikers word gewaarsku om dit nie in te vul nie. Baie mense vul dit egter nog in, het Rossouw gesê, en dan is dit “net ’n kwessie van tyd voordat jou rekening leeggemaak word”. Hy het toevallig verlede week self so ’n e-pos oor FNB gekry. “So probeer hulle maar elkeen todat iemand byt,” het hy gesê. Hoewel banke met eise van miljoene rand sit van verbruikers wat vir dié foefie geval het, word daar slegs in uitsonderlike gevalle ooit geld uitbetaal. Slegs as die bank gou genoeg die rekening waarheen die geld oorgeplaas is, kan sluit, is daar ’n geringe kans dat ’n verbruiker dalk sy geld kan terugkry. Rossouw verseker verbruikers dat al die banke baie ernstig is oor die bedrogspul en baie geld spandeer om dit hok te slaan. Hy is redelik seker dat al die banke se elektroniese stelsels baie veilig is, maar dit bly die kliënt se plig om sy besonderhede aan niemand bekend te maak nie, al lyk die oorsprong van die e-pos baie eg. Stuur ook verdagte e-pos na phishing@nedbank.co.za, absa@absa.co.za of bel Absa (08600 08600). Stuur jou verbruikersklagtes na edit@paarlpost.co.za.
More
News
|