DIE Universiteit Stellenbosch (US) het op geen stadium “samewerking met die kollege geweier” soos verlede week berig is nie. Die feite is presies die teenoorgestelde.
Die US het gedurende 2008 en 2009 baie hard daaraan gewerk om ’n samewerkingsooreenkoms met die Hugenote Kollege te vestig binne die voorwaardes wat die Kollege gestel het.
Van die vernaamste voorwaardes wat die Kollege gestel het, was dat hulle ’n selfstandige private Artikel 21 Maatskappy wil bly en nie onder die US se beheer wil staan nie.
In die onderhandelingsproses het die US meer as die spreekwoordelike tweede myl geloop.
Die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding het in Desember 2009 die samewerkingsooreenkoms wat die US saam met die Kollege ontwikkel het, afgekeur.
Die Minister het die volgende rede gegee: ’n private instelling (soos Hugenote Kollege) mag nie funksioneer as ’n plek van onderrig vir ’n openbare hoër onderwysinstelling (soos US) nie.
Prof Jan Botha (Senior Direkteur: Institusionele Navorsing & Beplanning, Universiteit Stellenbosch)