Kry idees vir die feestyd
2010-10-07
DIE tafels is gedek vir die tweede Fees Idees Skou, wat gaan plaasvind by Simondium Country Lodge van 27 tot 31 Oktober. Dié mark oor vyf dae (09:30 tot laatmiddag) bied innoverende idees en geskenke vir alle feestelike okkasies. Die skou sal meer as 120 spesialiteits-uitstallers huisves, wat almal eksklusiewe en unieke goedere spesiaal vir die skou produseer. Hierdie jaar se Fees Idees Skou sal uit ’n nog breër verskeidenheid van goedere bestaan. Sowat 70% van die 2009 uitstallers sal betrokke wees vir ’n tweede keer; en die res is nuwe uitstallers wat met die hand uitgesoek word. Die publiek sal kan rondsnuffel vir dekor-items (huis en tuin), kuns, meubels, handwerk, klere, geskenke en nog vele meer. Daar is ook ’n uitgebreide deli-afdeling met tuisgemaakte brode. Feesgangers sal ook smaaklike piekniekpakkies van die Deli kan koop en dit na hartelus om die swembad of op die stoep geniet. Café Juno sal verseker dat jy nie honger of dors bly nie. Ekstra aktiwiteite by die Fees Idees Skou sluit in ’n veiling op 26 Oktober en die manne kan ook op Sondag, 31 Oktober kom kuier wanneer daar ’n uitstalling van veteraanmotors sal wees. Daar sal ook daagliks kreatiewe werkswinkels aangebied word deur Tina Bester (koekversiering) en Marlize Lotz (mosaïek, fopkeramiek en skermdruk). * Mosaïek: Kom maak jou eie kontemporêre mosaïek-potstaander en leer die basiese tegnieke van mosaïek tesame met tekstuurversiering. * Fopkeramiek: Leer hoe om jou eie pragtige dekor-items van lugdroogklei te skep wat feitlik net soos ongeglasuurde keramiek lyk, maar die helfte van die tyd en moeite verg. * Skermdrukwerk: Hier sal jy ’n vinnige, maklike en koste-effektiewe metode om hierdie populêre handwerkvorm te bemeester leer. * Koekversiering: Bemeester basiese koekversierings-tegnieke en leer hoe om jou eie suikerrosies te maak. Koste per werkswinkel is R200 en sluit toegang, verversings en ’n geskenkpak in. Besreek by 021-874-1046. Kinderwerkswinkels word ook aangebied. Kidazzle sal hiervoor verantwoordelik wees. Kontak 082-742-7773 vir inligting hieroor. Toegang van R20 sluit parkering in. Besoek die webtuiste www.festiveideas.co.za.
More
News
|