'n Mens kan nie geskiedenis eet nie
2005-09-29
VIR die afgelope ses jaar poog die Paarlse dorpsplaaseienaars om die Munisipaliteit te oortuig van die noodsaaklikheid van residensiële ontwikkeling op grond beskikbaar binne dorpsgrense omdat daar geen residensiële bougrond in die Paarl is nie, en tafeldruifverbouing onekonomies geword het.
Die bloeitydperk van die tafeldruifbedryf in die Paarl-area is vir altyd verby. Gedurende die sewentigs toe die dorpsplase tot agri-verbruik beperk was, was Paarl se druiwe die vroegste op die mark, maar word nou reeds vir jare deur ander gebiede vooruitgegaan teen prima pryse.
Ons plaaslike tafeldruifboere suig aan die agterste speen, ook met die laagste opbrengs per hektaar vergeleke met ander areas.
Ander lande in die Suidelike Halfrond het ook hierdie oestydperk betree en kompeteer met ons vrugte oorsee tot ons nadeel.
Die ondersoek gelas deur die Munisipale Raad en gedoen deur MCA-Planners, het drie jaar geduur en R500 000 gekos en nou sę hul waaragtig daar moet ’n verdere “detailed investigation” gedoen word!
Hoe lank dan nog?
Voorstelle is ter tafel gelę om dorpsplaaseienaars uit hul finansiële verknorsing te help en hul inkomste (teen hoeveel uitgawe?) aan de vul met restaurante, wynkelders, konferensiefasiliteite en akkommodasie - waarvan daar reeds ’n ooraanbod is.
Die plan beveel aan dat klein onekonomiese plase moet gekoop en gekonsolideer word met buurplase! Deur wie? Alkant van die draad sukkel die eienaars.
Daar word voorgestel dat as Tafeldruiwe nie meer lewensvatbaar is nie, moet oorgeskakel word na wyndruiwe - terwyl daar węreldwyd ’n oorproduksie van wyn is.
En waarvan moet die boer se familie en werkers leef tot die nuwe wingerd in drag kom na drie jaar se uitgawes?
Die plan skryf erfgroottes van 500 vierkante meter vir een huis per hektaar voor, met ander woorde “volkshuisies” gekoek om die plaaswerf! Wie wil of kan daarmee die res van die plaas in stand hou?
Die Groenes en bewaringsgesindes skop natuurlik dat dit bars maar dit raak nie húlle sakke nie! Ons hele omgewing is ryk aan natuurskoon.
Moet ons boere wurg en op hul knieë gedwing word om sleepvoet van banke weggewys te word wanneer ekstensie van hul skuld geweier word, terwyl ons ons eie mense dwing om buite dorpsgrense te woon en die dorp verarm aan eiendomsbelasting sowel as koopkrag?
Gaan kyk na die honderde huise, “dorpshuiskomplekse” en sekuriteitsbuurte wat gebou word op omliggende dorpe en vergelyk dit met die Paarl.
Ons moet vooruitgaan en aanpas by die tyd, ons dorpsgrense verbreed, grond benut wat reeds deur die Munisipaliteit gediens word, en huiseienaars begeester om HIER te wil woon. Ons kan nie met “geskiedenis” eet, drink of rekeninge betaal nie.
Daar is nog tot 17 Oktober tyd om beswaar te maak.
Leef en laat leef
More
News
|