DIE internasionaal-bekende musiekblyspel, Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat, word van 13 tot 16 Oktober in die Bergkroon-teater (ou Hawekwa Jeugterrein) in Wellington opgevoer.
Die direkteur van die Wellington Produksiehuis, Johann Enslin, het hierdie produksie aangepak. Altesame 300 sangers tree op in die koor, saamgestel uit leerders van Hugenote Laerskool en Hoërskool, Hugo Rust Laerskool, Hoër Jongenskool, studente van CPUT en vryskut-koorsangers. Die rolverdeling bestaan uit 27 sangers en dansers, met ’n 15-stuk orkes, kostuums en verhoogstel.
Die bekende Elvis-rol van Faro, word vertolk deur die sanger Danie Niehaus, terwyl die hoofrol van Joseph vertolk word deur oud-Gimmie André Terblanché (tans ’n dramastudent). Jo-Mari van Deventer is die verteller.
Die regie is deur dr Petrus du Preez, choreografie deur Estelle Olivier, die ontwerper is Ronmari van Tonder en die musikale regisseur is Johann Enslin. Kaartjies is beskikbaar by Musik-Lood (Paarl), Brent Oil Filling station (Wellington) of skakel 084-402-2916.