Beste baanfietsryers uit die Paarl
2010-10-07
VERSKEIE Paarlse baanfietsryers wat die afgelope naweek aan die 2010 Suid-Afrikaanse Baanfietsrykampioenskappe by die Velodrome in Bellville deelgeneem het, is beloon met puik prestasies. Onder hulle tel die 21-jarige Réniell Matthysen, 16-jarige ryers Bradwin Daniëls en Brent van Rooyen en die 14-jarige Jean-Claude Jantjies. Matthysen is die afgelope naweek aangewys as die Beste Elite Fietsryer van die byeenkoms terwyl Jantjies die nuwe SA o.14 kampioen is en Daniëls en Van Rooyen hul SA kleure verwerf het. Die eer het Réniell, wat deur Intellibus geborg word, te beurt geval nadat hy goue medaljes verower het in die 1500m en Uitvalwedren sowel as ’n goue medalje in die 50 km Punte Madison waaraan hy deelgeneem het saam met die Bellvilliet, Evan Carstens. Die paar het in die 50 km Punte Madison getoon dat hulle ware kampioene is deurdat hulle oor vier professionele spanne naamlik House of Paints (2 spanne) en MTN (2 spanne) geseëvier het deur ’n ronde voor hulle te eindig. Hulle het die SA rekord (01:01.51) met vier sekondes misgeloop nadat een van die professionele spanne ’n ongeluk veroorsaak het wat Réniell met moeder aarde laat kennis maak het. Hy het egter voortgejaag om die titel te verower. Ander presteerders is Graeme Ockhuis (o.14, silwer 1500m / brons 500m tydtoets), Wade Theunissen (o.12 silwer 1500m / goud 3km), Keanu Slinger (o.12 goud 1500m/ silwer 3km), Linwill Jansen o.10 (silwer in 1500m, 3km en 500m tydtoets), Nathan Cornelissen Juniors (brons in Kerin wedren en 1500m) en Emile Jacobs Juniors brons15km en 1500m en silwer in uitvalwedren.
More
News
|