Boland verhang bordjies teen Griffons
2010-10-07
Sieb Sieberhagen
IN een stadium het dit kompleet gelyk asof die Boland Kavaliers Bloubul-rugby wil speel en alhoewel dit heel partykeer vir hulle gewerk het, was die wedstryd teen Griffons op Boland-stadion Vrydag maar vaal en verbeeldingloos. Alhoewel hulle die wedstryd teen die Griffons baie maklik met 40-25 gewen het, was die resep vreemd vir Boland wat gewoonlik die bal baie lug gee. Die spel het so in die stampkar-kraal verval dat die Kavaliers se losskakel, Willie le Roux, wat in vorige wedstryde sprankel verleen het, ook baie gesukkel het. Hy het kort-kort die binnegaping probeer neem om hom net daarna teen ’n Griffon-verdediger vas te loop. Die een troos is dat hulle die bordjies teen die Griffons verhang het ná hul eerste ronde nederlaag teen die Welkommers en nou in die Curriebeker-eersteliga sake in die uitspeelwedstryde moet uitspook. Spelers wat vir die Kavaliers uitgestaan het, was slot Hottie Louw (speler van die wedstryd), flank Braam Immelman en slot Nikolai Blignaut. Alhoewel Le Roux op die aanval gesukkel het, was sy ondersteunende spel puik. Hy is met twee drieë beloon. Boland se agtsteman, Zandre Jordaan, was eerste om te gaan druk, waarna Windpomp van Rooyen die Griffons se rekening in die 26de minuut geopen het met ’n drie. Toe dit kort voor rustyd wou voorkom of die spanne gaan rus met die telling op 7-5 in die guns van Boland, het eers Braam Immelman gebreek om vir Le Roux weg te stuur vir sy eerste drie, gevolg deur ’n ewe goeie breekslag deur Blignaut ’n minuut later, wat gelei het tot Brendon April se drie. Die Griffons se kaptein Werner Griesel, het eerste gaan druk in die tweede helfte, maar ’n paar minute later het Boland teruggeslaan met hul vierde drie van die dag, gedruk deur Le Roux. ’n Strafskop het gevolg vir die besoekers, waarna Boland nóg ’n vyfpunter behaal het, die keer deur Cornal Hendricks. Shane Hanke se drie in die 65ste minuut het die Griffons se hoop lewendig gehou. Alex Kock se drie vir die Kavaliers in die 60ste minuut was egter die laaste spyker in die Griffons se kis, al het laasgenoemde span die laaste sê gehad met ’n drie deur Eddie Fredericks. Die Bolanders speel Saterdag (19:00) teen die OP Kings in Port Elizabeth. Dié wedstryd word direk op Supersport uitgesaai. Brendon April vervang die beseerde Jeremy Plaatjies (knie) in die beginspan op linkervleuel, terwyl die veelsydige voorspeler, Ashton Constant, vanaf die plaasvervangerbank sal diens doen.
More
News
|