Jong vrou aangeval, vermoor
2010-10-07
Lise Beyers
VIER jaar nadat ’n vrou haar dogter en kleinkind in ’n tragiese voorval aan die dood afgestaan het, moes sy weer vandeesweek nog ’n kind aan die dood afstaan. Liezel Middelpos (23) is Sondagmiddag laas lewend gesien naby haar woning wat sy met haar ma in Remmittstraat, Klapmuts, deel, nadat sy teruggekeer het van Kraaifontein saam met vriende. Haar bedroefde ma, Leah Drammat, vertel dat soos enige jongmens, het Liezel naweke saam met haar vriende uitgegaan en ook so ’n bietjie gedrink. “Sy het hard gewerk op ’n bekende wynplaas in Agter-Paarl, en was opgewonde, want sy is bevorder en sou Maandag vanuit die wingerd verskuif word na die wynkelder.” Toe daar teen Sondagmiddag nog nie van Liezel gehoor is nie, het Drammat deur die strate geloop en soek na haar. Maar sy het ook die verantwoordelikheid gehad om na haar enigste kleinkind, Liezel se driejarige dogtertjie, Lehkisha, om te sien, en moes teen donker huis toe gaan. Vroeg Maandagoggend is Drammat se vrese bewaarheid, toe sy die tyding ontvang het dat haar dogter se liggaam skaars 200 meter van hul huis gevind is. ’n Pendelaar het op haar lyk afgekom tussen opslaanhuise in die informele woongebied Mandela City. Liezel is dood weens kopbeserings wat veroorsaak is deur verskei houe met ’n stomp voorwerp. Sy is vermoedelik verkrag. In ’n tragiese voorval, het Liezel se ouer suster, Johanna (23), vier jaar gelede met haar tweejarige dogter Lee-Anne in haar arms, op die treinspoor in Klapmuts gaan sit, reg voor ’n aankomende trein. Sy en Lee-Anne is op slag dood. Dinsdagoggend het woedende inwoners van die gebied ’n optog gehou om die moordenaar uit sy skuiling te probeer dwing. Sowat 100 vrouens, jonk en oud, het deur die strate geloop en betoog teen geweld en misdaad teenoor vroue. “Ons is moeg om slagoffers te wees van geweld en hierdie verskriklike moord is die laaste strooi,” het een van die organiseerders van die optog, Lucinda Harsband, gesê. “Ons as vrouens moet opstaan teen ons lyding - tot hier toe en nie verder nie.” ’n Woordvoerder van die polisie, konstabel Naima Vaugahn, het gesê dat ’n volstoom-soektog aan die gang is na Liezel se moordenaar. “Ons het reeds ’n paar persone ondervra in verband hiermee en hoop om binnekort ’n verdagte in hegtenis sal neem.” * A young woman has been raped and murdered in Klapmuts, four years after her sister died after being hit by a train.
More
News
|