Onmin oor taxi's, smouse by sentrum
2010-10-07
Lise Beyers
NET toe dit lyk asof die stof om die smous-debakel in die Paarl gaan lê, het humeure verlede week weer opgevlam, en dié keer het taxi-bestuurders ook haaks geraak. Smouse het die gebied in Newstraat, Paarl, met rommel bestrooi, nadat die eienaar van die Shoprite-sentrum, David de Freitas, opdrag gegee het dat hulle nie meer op sy perseel onder die afdakke van die sentrum mag staan nie. Talle smouse, selfs diegene wat nie by hierdie debakel betrokke was nie, het oproerig geraak en rommel gestrooi in Newstraat. Na onderhandelinge tussen bestuur en smouse, is daar ooreengekom dat hulle wel toegelaat sal word om sekere staanplekke op Shoprite se parkeerterrein te gebruik. Maar toe was dit taxi-bestuurders se beurt om hul woede te toon. Die bestuur van die Shoprite-sentrum het ook die taxi’s weke gelede belet om hul voertuie op die sentrum se parkeerterrein te parkeer. En toe hulle sien dat smouse hiér hul intrek neem, was die gort behoorlik gaar. Om hul woede te toon, het hulle summier besluit om hoegenaamd nie meer die taxi-staanplek by die winkelsentrum te gebruik nie, maar eerder die taxi-waggebied oorkant die Bergrivier Boulevard. Verkeerschaos het hierna geheers toe taxi-bestuurders hulself aangewys het as verkeersbeamptes, Hulle het die besige Bergrivier Boulevard-verkeer gestop om hul passasiers veilig oor die pad te bring. De Freitas het gesê dat die herrie omtrent die smouse wel ontstaan het ná sy besluit dat hulle nie meer in die gange van sy sentrum mag smous nie. “Ek en sowat nege smouse het jare gelede ooreengekom dat hulle vanaf my perseel kop ’n netjiese, ordelike manier sal doen. “Hulle het hierdie reëls oorskry, en omdat hulle my huurders te na gekom het, moes ek hulle vra om die area te verlaat.” De Freitas het bygevoeg dat die rede hoekom hy die taxi’s toegang belet het tot sy parkeerterrein,’n kwessie van private eiendom was. “Al hoe meer taxi’s het hier kom staan en parkeerplek weggevat van kliënte by die sentrum. “Ons is in die proses om die hele sentrum op te knap en dit word ontwrig deur verskeie partye.” Dickie van Wyk, voorsitter van die Paarl Minibus-taxivereniging, het gesê dat hierdie situasie direk spruit uit die Drakenstein Munisipaliteit se onvermoë om na die taxi-bedryf om te sien. “Hierdie besluit van die sentrum om sekere van ons bestuurders die perseel te verbied, was nou die laaste strooi. “Die Munisipaliteit belowe al jare lank om vir ons ’n behoorlike taxi-staanplek te bou, maar dit gebeur nie. Waarheen gaan die geld wat binne die begroting vir die taxi-bedryf bestem is? Ons sien nie ’n sent hiervan nie. “Die wag-area langs die rivier is ’n gemors. Die verkeer kan nie vloei nie, en die Munisipaliteit het gesê dat hulle ’n beheerbeampte by die Shoprite oplaai-gebied sal sit, asook by die waggebied. Dan sou hulle per tweerigting-radio die vloei van taxi’s beheer. Maar jare ná die voltooiing van die wag-gebied, wag ons ook steeds.” Tydens Donderdag se chaotiese omstandighede tussen smouse en taxi-bestuurders, het talle rolspelers van beide partye gesê dat die perfekte taxi-staanplek op Patriotplein sou wees, waar smouse en taxi’s saam kan staan. Maar hiervan is daar geen sprake nie, want die plein is nou kontraktueel oorgedra aan Anytime Investments wat ’n herontwikkelingsplan vir die Paarlse middedorp beoog. * Paarl hawkers and taxis became hot under the collar last week when instructed by the management to leave the premises of the Shoprite shopping centre.
More
News
|