Sagte man van staal sterf
2010-10-15
Lise Beyers
VLAE het vandeesweek halfmas gewapper by Saturn Stainless Industrieë in Hugenote, nadat hul stigter en direkteur, Reynier van Schalkwyk, ná ’n kort siekbed gesterf het. Van Schalkwyk is vier maande gelede met kanker gediagnoseer. Hy het vroeg Donderdagoggend tuis gesterf, enkele ure na sy tagtigste verjaarsdag. Van Schalkwyk word beskou as ’n pionier in die vervaardiging van vlekvrye staal wyntenke. Hy het in 1969 vir Barlow Oshkosh begin werk as bemarkingsbestuurder, en was betrokke by hul afdeling wat die eerste vlekvrye staal wyntenke in die land vervaardig het. Van Schalkwyk het ’n reuse toekoms voorspel vir vlekvrye staal wyntenke en het in 1979 saam met Dick Knight, wat ook by Barlows gewerk het, ’n eie maatskappy begin. Hierdie vennootskap het gelei tot Saturn Stainless wat steeds verantwoordelik is vir die vervaardiging en installasie van hoogs gesofistikeerde wyntenks. Vandag is die meeste wynkelders dwarsoor die Wes-Kaap, asook die Noord-Kaap, uitgerus met Van Schalkwyk se tenks. ’n Gevorderde droë verkoelingsisteem wat hy ontwikkel het vir wyntenks, word vandag wêreldwyd gebruik. Knight het vandeesweek gesê dat sy jarelange vennoot ’n toegewyde dienaar van die wynbedryf was. “Hy was uiters eerlik teenoor ons kliënte en was altyd positief. Selfs in moeilike finansiële tye het hy die lig aan die einde van die tonnel gesien en gesê, ‘môre werk ons weer oortyd’. “’n Groot leemte is gelaat in die wynbedryf. Reynier het ’n visie gehad wat hierdie bedryf bevorder het. Hy het ook nooit geskroom om mense te help wat hiér aangeklop het nie.” Van Schalkwyk word oorleef deur sy vrou, Lorene, en dogter Sonja Barrous. Hy is Dinsdag vanuit die Toringkerk ter ruste gelê. * A pioneer in the wine industry, Reynier van Schalkwyk, has passed away after a short illness.
More
News
|