Kotze skuldig
2010-10-15
Liezl Dyson
DAN KOTZE, ’n voormalige ANC-raadslid, is Maandag in die Paarlse landdroshof skuldig bevind op twee klagtes van aanranding. Kotze word daarvan beskuldig dat hy Trevor en Joan Ernstzen van die plaas Le Fût in Klein Drakenstein in 2007 aangerand het tydens ’n onenigheid oor die uitsetting van ’n plaaswerker. Dié aanranding het plaasgevind nadat Ernstzen drie jaar gelede ’n uitsettingsbevel verkry het om ’n werker van sy plaas te verwyder. Trevor Ernstzen het tydens die verhoor getuig dat Kotze, sonder om hom voor te stel en net te sê dat hy van die ANC is, op Ernstzen se plaas opgedaag het en hom beveel het om te stop waarmee hy besig was. Hy het ook getuig dat Kotze nie na rede wou luister nie en het op hom en sy vrou begin vloek en skreeu. Verskeie getuies het ook tydens die verhoor getuig dat hulle gesien het hoe Kotze eerste vir Trevor Ernstzen slaan en hom herhaaldelik skop terwyl hy bewusteloos op die grond gelê het. Hy het weens dié beserings breinskade opgedoen. Die hof het ook gehoor dat Kotze vir Joan Ernstzen in die gesig geslaan het, waarna sy op die grond geval het en Kotze haar ook herhaaldelik geskop het. Kotze het egter in sy getuienis gesê dat Trevor en Joan Ernstzen hom eerste aangeval het, maar dié getuienis is deur landdros André Fourie tydens sy uitspraak verwerp. “Ek sien nie die logika dat hulle vir u sal aanrand nie.” Hy het gesê dat dit duidelik is dat Kotze fisies baie groter as beide die klaers is en dat dit dom van hulle sou wees om vir Kotze aan te val. Fourie het tydens sy uitspraak gesê dat dié saak eintlik in die Streekhof verhoor moes word en dat indien Kotze “reg aangekla” was sou hy ten minste op een klag van poging tot moord skuldig bevind gewees het. Die landdroshof sal egter nie die vonnisoplegging hanteer nie, maar die vonnis sal in die Paarlse Streekhof opgelê word. Op 9 November sal ’n Streekhof-datum verkry word.
More
News
|