DIE Cultivaria-fees het beslis gekom om te bly in die Paarl. Die afgelope paar jaar was die fees elke keer ’n goeie kulturele en ekonomiese inspuiting vir die Paarl.
As inwoner van die Paarl is ek trots op dit wat vermag word en ondersteun ek die pogings van die organiseerders heelhartig. Dit is ook ’n geleentheid om die Paarl se beeld wyd en syd te bevorder.
Dis nou hier waar my positiewe kritiek moontlik die organiseerders tot voordeel kan strek.
As julle roem op ’n fees met finesse dan vereis dit dat die klein dingetjies ook noukeurig aangespreek word. Ons was ’n hele groep Bovril Langtafel feesgangers wat die 23ste September aan die langtafel opmerkings gemaak het oor die “oorsigfout” van die organiseerders.
Diegene wat aan die berg kant gesit het in die omgewing van Strooidak se parkeerterrein moes noodgedwonge die hele aand en ook tydens die ete vaskyk in ’n toilet.
Toegegee dit was daar vir die gerief van die gaste, maar dan wil ons nie sien wie gaan waar in en hoe lyk die binnekant van die damestoilet kort-kort nie!
Los die probleem volgende jaar op deur net die verskaffer te vra om die ding om te draai dat die deure na die rivier se kant oopmaak – dis so eenvoudig!!!
Strikdas