Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Ek wens....ek wens

Ek wens....ek wens
 
2010-10-21

Hester de Kock

SEKER weinig mense wens nie soms vir iets nie. Ek is seker derduisende Suid-Afrikaners wens vir ’n werk en ’n leefbare salaris en miljoene wens om die Lotto te wen en help die uitkoms aan deur geld daarop te verkwis.

Nog méér wens hulle selfgeskepte omstandighede weg.

Ek wens mense wil verantwoordelikheid aanvaar vir hul keuses en nie die nasionale spel “The Blaming Game” speel om omstandighede te regverdig nie.

Ek wens dat elkeen wat ’n podium bestyg om eise te stel, kundig sal wees oor landsake en ekonomie.

Ek wens die opstokers besef hul aandeel aan die gulsige verslind van die koek en dat daar nog net krummels oor is.

Eintlik wens ek dat elke spreker van ’n opruiende toespraak stom word, totdat hy tot sy sinne kom.

Hiermee saam wens ek dat almal wat ’n skelmstreek bedink, by gedagte daaraan, ’n onhoudbare pyn kry aan die onderpunt van sy rugstring sodat pynlike ongemak hom weerhou van sit.

Wat sal beteken dat baie hooggeplaastes alles staan-staan sal moet doen en nêrens kan ry nie, omdat sit konstant onmoontlik sal wees.

Ek wens dat kundiges aangestel word vir veiligheid, gesondheidsdienste en onderwys en ’n eeu se flaters insien en regstel en dat onderwyskundiges die wysheid het om moedertaalonderrig in te stel.

Ek wens ek weet hoekom die heersende inheemse taal in elke streek nie as derde taal verpligtend gemaak is nie.

Nog ’n wens is dat ouers ongehoorsaam word vir hul kinders en kinders meer gehoorsaam is vir ouers asook dat gesinswaardes en die belangrikheid van hegte familiebande ’n prioriteit is.

Tesame hiermee wens ek dat elke hormoongedrewe jongmens sal besin oor waarvoor en vir wanneer, die lyflike luste bedoel is en hulself baie ellende spaar en ook voorkom dat duisende onskuldige kinders onder haglike omstandighede hulle weg moet vind.

Op dié trant wens ek dat hier, soos in Kommunistiese China, ouers met slegs twee kinders finansieel bevoordeel word deur die staat pleks dat geboortes aanmoedig deur toelaes vir kinders wat gebore word in ellendige sosio-ekonomiese omstandighede.

Terselfdertyd wens ek dat sogenaamde rolmodelle die inbors sal hê om nie promisku te lewe nie óf dan liewer in die geheim, sodat die vieslike detail van hul lewe bly waar dit hoort: privaat.

Indien my wens waar word dat elke motorbestuurder oor werklike bestuursvernuf beskik en altyd links hou, sal die inspitbedryf ook ’n ekonomiese insinking beleef en hoef ek nie, teësinnig, eendag veras te word omdat plek vir begraafplase minder word nie.

Terwyl wens so lekker is, wens ek die stropers se straf is om vir jare agtereen, daagliks vir etlike ure, voor stormende renosters te vlug oor ongelyke terrein en die Rattes moet koeëls probeer ontduik vir ure.

Ek wens die doodstraf terug. Dis regverdige vergelding vir die lyding van onskuldige slagoffers en die smart van naasbestaandes; oorbevolking in tronke word uitgewis.

Ek wens die bevoorregte verblyf in tronke word afgeskaal tot zero sodat mense werklik ’n vrees vir gevangenskap sal hê.

Ek wens politieke en godsdienstige ekstremiste vind die goue middeweg in hul oortuigings en dat elke Suid-Afrikaner die goeie sal najaag met dieselfde passie waarmee die Blou Bulle ondersteun word.

Wens ek weet hoekom ek steeds ’n Blou Bul is, dekades nadat Naas ophou speel het en hoekom, gedurende die Wêreldbeker, elektrisiteitsverbruik nooit onder druk was nie en net daarna, weer daagliks?

Goed, die Engelse spreekwoord, “If wishes were horses, beggars would ride” kan nie waar word nie, want dan sal miljoene perde in Suid-Afrika verskyn met katastrofiese gevolge.

Ek wens hierdie wense van my word waar, want ek wil sien wie in my dorp is skielik te voet.




More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za