DAAR het ’n wonderwerk in ons straat plaasgevind en toe ek dieselfde wonderwerk in die Huguenot-omgewing en in die res van die dorp opmerk, was ek genoop om beslis in wonderwerke te glo!
Ons stormwater-mangate het wonderbaarlik van hul jarelange kwaal, ’n vreeslike opgestoptheid, herstel. Seker wat die dokter voorgeskryf het vir die ongesteldheid.
Spanne werkers het ons strate ingevaar, van mangat tot mangat gegaan en klipharde verstopsels ten aanskoue van verbygangers eers graaf vir graaf en pik vir pik versigtig losgewikkel en toe triomfantelik ten toon gestel.
Die verstopping voor ons huis was so groot dat dit omtrent die helfte van die motor-ryvlak versper het voordat dit ure later, gedurende spitstyd, verwyder is.
Met Sondagaand se stortreën, toe die strome stormwater heerlik in die skoon, oop mangate afstorm en babbelend in die ondergrondse kanaalstelsel verdwyn, het dit jou wragtigwaar soos pragtige musiek in my ore geklink, iets wat ek baie jare laas die voorreg gehad het om te hoor.
Wie ook al die voorstel in die raadsvergadering gemaak het, of wie ook al die broodnodige fondse bewillig het om hierdie belangrike taak afgehandel te kry, verdien sekerlik ’n pluimpie of twee.
Nou wens ek kliphard dat die skoonmaak-operasie nie slegs politieke oëverblindery was nie. Kom ons hou tog vol met die gereelde toediening van die purgeermiddel om ons dorp se kanale te laat werk!
Liewe dorpenaars, julle kan nou vir ’n wyle rustiger slaap totdat die herfs met sy tonne herfsblare weer aanbreek. Gelukkig gaan daar nie meer veel plastieksakke in die mangate beland nie, want wie wil dan nou jou swaarverdiende geld in die stormwater gooi?