DIE afgelope weke het heelwat briewe verskyn van belastingbetalers van die Drakenstein Munisipaliteit wat duidelik blyk dat dienslewering, om dit sagkens te stel, meer as veel te wense oorlaat. Dit bestaan in sekere gevalle doodeenvoudig nie.
Meer as vyf maande gelede het ek ’n bouplan vir ’n dubbelmotorhuis ingedien en met verskeie amptenare geskakel oor die onaanvaarbare oponthoud. Toegegee, die plan is twee maal terugverwys en elke keer is dit binne 48 uur terugbesorg aan die betrokke afdeling.
Dit is eintlik hartseer om die verskillende verduidelikings van amptenare te herhaal oor waarom my plan nie binne die tyd wat die wet bepaal, afgehandel kon word nie.
Dit het gewissel van persone wat herhaaldelik siek was of doodeenvoudig net nooit beskikbaar was nie. Versoeke dat sulke persone moet terugskakel, het op dowe ore geval. Die kersie op die koek was toe die laaste verskoning, dat al drie faksmasjiene se ink op was. Lagwekkend, en dui op uiters swak bestuur en beplanning van iemand.
Aangesien ek toestemming van my bure moes verkry, was dit skandalig dat Drakenstein se stelsel nog wys dat een woning nog eienaarskap aandui van vyf jaar gelede terwyl die munisipale rekening reeds na die nuwe eienaar gaan.
Verskeie kere het amptenare gesê die plan sal môre kom na Wellington en nooit laat weet waarom môre toe nooit gekom het nie.
Ek wonder net as alle planne wat ingedien en so hanteer word, hoe uitbreiding kan plaasvind in ons pragtige omgewing.
My afleiding is dat óf die amptenare is nie opgewasse vir hul taak nie, óf hulle gebruik my belastingeld net om die tyd te verwyl.
As dit nie vir mnr Cyster se optrede was nie, het ek beslis nog nie die planne ontvang nie. Baie dankie vir een toegewyde persoon.
PA Krynauw