Tik word oral gevind
2010-10-21
DIE gevreesde dwelm Tik duik tans in die vreemdste plekke op. Dit het lede van Wellington polisie die afgelope naweek agtergekom, nadat hulle ’n bekende vermeende dwelmsmous diep moes deursoek het. A/o Charl Meyer en sy span het Vrydag inligting opgevolg wat hulle gelei het na die woning van Heinrich Thyse, beter bekend as Voete, by Versaillesstraat 27. Nadat hy noukeurig deursoek is, het die polisie steeds snuf in die neus gehad dat als nie wel is nie. Tydens ’n inwendige ondersoek is daar afgekom op Tik ter waarde van R20 000, versteek in ’n banksakkie in Thyse se anus. By verdere ondersoek is daar op ’n man afgekom wat na bewering nog ’n sakkie Tik in die agterplaas van die woning probeer begrawe het. In ’n ander voorval is ’n sakkie Tik versteek gevind binne die mond van Frendall Fritzman, ook van Versaillesstraat 27. En in Brendon Jones (18) van Gansstraat se sokkies is vier banksakkies Tik gevind. Die Wellington polisie het gewoel onder dwelmsmouse die afgelope naweek, met 22 verdagtes wat in hegtenis geneem is vir die besit van dwelms. Daar is beslag gelê op 33 banksakkies Tik, en talle sakkies dagga. Die publiek word bedank vir hul samewerking in die bekamping van misdaad.
More
News
|