Baba sterf onverwags
2010-10-21
Lise Beyers
TOE die ouers van ’n vier maande-oue baba hul seuntjie die oggend gegroet het, was hy “spekvet en gesond’. Enkele ure later het sy dooie liggaampie egter voor hulle gelê.
Vrydagoggend is Anrico Dipaolo oudergewoonte deur sy ouers by Pietie se Skool in Denneburg afgelaai. Sy pa, Antonio, is om 10:00 deur Paarl MediClinic in kennis gestel dat hy dadelik daarheen moes gaan. Anrico het asemhalingsprobleme ondervind en is deur die dagskooleienaars, Johan en Suretta Jordaan, na die hospitaal gehaas. Hy is egter kort na sy aankoms daar oorlede. “Ek het vroegoggend nog vir Anrico ’n bottel gevoer en hy was vol lewe en het gekraai van die lag,” vertel ’n bedroefde Antonio. “Ons het weer gaan slaap en hy was later die oggend weer vol vreugde. “Maar ons dag het lelik skeefgeloop. Teen die tyd dat ek by die hospitaal aangekom het, was my seuntjie reeds dood.” Sy ma, Pricila, het gesê dat alhoewel Anrico baie gesond was, het hy wel ’n tydjie gelede ’n geweldige verkoue onder lede gehad wat tot asemhalingsprobleme gelei het. ’n Nadoodse ondersoek het getoon dat hy weens asemhalingsprobleme dood is. “Ons is baie dankbaar vir die vinnige optrede van die personeel van Pietie se Skool. Die voorval is niemand se skuld nie, en dit kon net sowel by die huis gebeur het.” Anrico word oorleef deur sy ouers en ’n driejarige boetie, Antonio jr. ’n Roudiens is gister vir hom gehou in die Strooidakkerk.
More
News
|