Na die hel en terug
2010-10-21
Lise Beyers
’n JONG vrou van die Paarl kan nou uiteindelik rustiger slaap. Haar pa is verlede week tot 50 jaar gevangenisstraf gevonnis vir verkragting en aanranding.
Leandra (19) is vir drie jaar herhaaldelik verkrag deur haar pa, Alfred Pienaar. En nou praat sy openlik oor haar “pad na die hel en terug” sodat ander meisies in die posisie waarin sy was, gehelp kan word. As 13-jarige dogtertjie moes Leandra saam met haar ouers ’n bed deel in hul karige huisie in die Chester Williams-plakkerskamp in Amstelhof. Dit is tóé dat haar pa haar, reg langs haar ma, begin betas het terwyl sy geslaap het. “Ek het geweet dat dit verkeerd was, maar was baie bang vir my pa. Hy het my dikwels pimpel-en-pers geslaan. “Ek het net nie geweet waarheen om te draai nie en was ook baie skaam vir die gebeure wat plaasgevind het.” Toe dinge uiteindelik net te erg geraak het vir Leandra, het sy weggeloop Knysna toe. Sy was 17. Hier het sy gehoop om ’n nuwe lewe te begin, sonder die molestering van haar pa. Maar dit was nie lank nie, of haar pa, met die hulp van sy vriende, spoor haar op en dwing haar weer huis toe. “Ek was baie bang dat die verkragtings weer gaan plaasvind en het aangeklop by sy suster, wie op haar beurt die hulp van maatskaplike werkers ingeroep het.” Uiteindelik is Pienaar deur die polisie genader, onder voorwendsel dat hulle hom wou ondervra oor Leandra se verdwyning na Knysna. Toe hy egter sy voete in die polisiekantoor sit, is hy in hegtenis geneem en aangekla van verkragting. Deur alles het Leandra haar skoolloopbaan voortgesit en by Paulus Joubert Sekondêr matriek geslaag. Vandag bou sy sterk aan haar toekoms en het ’n standvastige werk by ’n lekkergoedfabriek in die Paarl. “Ek wil graag jong meisies waarsku dat as so iets met hulle gebeur, hulle dadelik moet hulp soek. Ek is deur die hel en terug, maar as ek terugkyk, kon ek dit soveel vroeër laat eindig het. “Alhoewel ek nou beter slaap, kry ek steeds nagmerries oor my pa. Ek is bly hy is nou toegesluit. Ek het ’n jonger suster en sou gevrees het vir haar veiligheid as hy steeds tuis was.” Paarl Streekshof landdros, Patrick Ross, het in sy opsomming van die saak gesê dat Leandra deur beide haar ouers in die steek gelaat is. “Dit is ’n ouer se plig om hul kinders te beskerm, maar die Pienaars het versuim om dit te doen. “Hierdie vonnisoplegging moet ’n waarskuwing aan die publiek wees dat misdrywe teenoor kinders in ’n uiters ernstige lig opgeneem word.” * A man has been sentenced to 50 years imprisonment, for raping his daughter.
More
News
|