Matrieks gaan bloed sweet
2010-10-28
Lise Beyers
BRAAIVLEIS, rugby en luilekker sonnige dae moet nou eers wag, terwyl matrieks tans met hul neuse in hul boeke sit ter voorbereiding vir vanjaar se matriekeksamens. Vandeesweek is weggespring met vraestelle in rekenaar toegepaste tegnologie (RTT), Duits en Geskiedenis, en vandag word die eerste Afrikaanse vraestel aangepak. Intussen is talle leerkragte hoogs bekommerd oor vanjaar se matriekuitslae, weens die erge ontwrigtings van die onderwys-staking van drie weke, asook die lang wintervakansie tydens die Węreldbeker-sokkertoernooi. Maar al kou talle matrieks tans naels, blyk dit dat die meeste van hulle kans sien vir die maandlange eksamens wat voorlę. Valencia le Roux en Davine Arendse van Noorder-Paarl Hoër het Maandag breed geglimlag nadat hulle RTT klaargeskryf het. “Ons het goed geskryf, want ons het hard geleer,” vertel Valencia. “Ons onderwysers het dwarsdeur die jaar vir ons voorberei op die eindeksamens en ons was heeltyd tydens die staking in die skoolbanke. “Dit was net een oggend ontwrigtend toe ons by die skool aangekom het en stakers van ander gebiede ons skoolhek toegesluit het.” Alesandria Claasens en Shaaista Mukaddam van Hoërskool La Rochelle het Maandag ook hul eerste voorsmakie gehad van die eindeksamens. Maar vir hulle was dit ook nie te erg nie. “Die senuwees was maar in die begin daar, maar dit voel nou byna asof die ys gebreek is, nadat ek my eerste vak geskryf het,” sę Shaaista. “Ons onderwysers het ons uitstekend voorberei vir wat voorlę. Maar ek weet dat daar nog ’n hele klomp werk voorlę. Die Węreldbeker-vakansie het ook veroorsaak dat ons baie lui teruggekeer het skool toe.” Nicole West van New Orleans Sekondęr is egter baie op haar senuwees. Sy skryf vandag haar eerste vak, Afrikaans. “Ek werk volgens ’n streng roetine van leer en ontspan. “Ek is veral bekommerd oor rekeningkunde. As dit eers verby is, sal ek ’n bietjie kan ontspan. “Weens die tyd wat ons verloor het tydens die staking, het ek in die September-skoolvakansie ekstra klasse bygewoon om werk in te haal.” Nicola Kaden van Hoër Meisieskool kou behoorlik naels as sy dink aan die wiskunde-vraestel wat voorlę. “Maar ek is ontspanne en positief. Ek voel ook voorbereid, want ons onderwysers het dwarsdeur die jaar vir ons op die regte pad gelei. “Die staking het ons glad nie beďnvloed nie, maar ons matrieks was wel ’n bietjie stadig om aan die gang te kom ná die lang wintervakansie.” Nicola vertel dat haar groot aansporing om goed te vaar in die matriekeksamens te danke is aan ’n weddenskap met haar pa, Michael. “As ek vier A’s kry, dan gaan hy sy hare lank laat groei, sowel as ’n lang bokbaard.” Ruan van der Merwe van Boishaai sę hy is redelik vol vertroue vir die eindeksamens. “Ons is goed voorberei deur ons onderwysers en het voortdurend aan ou vraestelle gewerk. Maar ek is baie bang vir wiskunde, dit is ’n bloedsweet vak.” Ruan sę dat die jaar by Boishaai vol vreugde was, maar ook baie harde werk was. “Ons is gelukkig glad nie deur die stakings geraak nie en was pal op ons pos.” En dan is daar leerders soos Francois Viljoen van Hoërskool Gimnasium, wat ’n perd van ’n heel ander kleur is. Hy neem 11 vakke en mik na ’n uitmuntende 10 A’s. Nie net neem hy akademiese vakke soos wiskunde en wetenskap nie, maar ook kreatiewe vakke soos kuns en drama waarin hy goed presteer. “Daar heers seker ’n ongesonde rustigheid oor my - ek is nie ’n groot een vir beplanning as dit by studeer kom nie. Ek leer ’n paar uur dan rus ek totdat ek voel ek is reg om verder te leer. “Die jaar was uitputtend, maar ek het dit baie geniet. Dit was spesiaal om in die klas van 2010 te wees, ook met die Węreldbeker.”
More
News
|