'Volmag' wemel van taalfoute
2010-10-28
Liezl Dyson
DIE Paarlse “konsultant” Marthinus Gouws, wat tereg staan op aanklagte van bedrog, het onlangs weer in die Paarlse Streekhof in die getuiebank gestaan. Gouws word daarvan beskuldig dat hy van die moeder van ’n beskuldigde in ’n Vredendalse moordsaak (Sarah van Wyk) R11 050 aanvaar het op die voorwendsel dat hy regsverteenwoordiging vir haar seun sou reël. Dit sluit in R300 as Gouws se konsultasiefooi, R750 vir ’n prokureur en R10 000 vir die advokaat. Hy het nie opgedaag by die hofsaak daardie Maandag nie, maar het wel die volgende dag laat daar opgedaag. Staatsaanklaer Enslin Orange het tydens kruisverhoor vir Gouws gevra hoekom hy toe nie die klaer se geld terugbetaal het nie. Gouws het geantwoord dat geen fondse volgens die ooreenkoms terugbetaalbaar was nie. Hy het toegegee dat die klaer se seun wel vir hom gevra het vir die geld, maar dat hy hom gewys het op die volmag wat hulle geteken het. Dié volmag is vroeër by die hof ingehandig. Daar is egter opgemerk dat die skrif aan die onderste gedeelte van die dokument wat lui dat “geen fondse terugbetaalbaar is by navrae” nie, nie in dieselfde skrif as die boonste gedeelte getik is nie. Gouws hou vol dat die onderste gedeelte wel by was toe Van Wyk dit geteken het, maar Van Wyk het getuig dat sy nie die onderste gedeelte kan onthou nie. Die oorspronklike dokument is nog nie gevind nie. Orange het vir Gouws gesê dat dit vir hom lyk asof die onderste gedeelte inderhaas as ’n nagedagte ingetik is, “want dit wemel van taalfoute”. Streeklanddros Nonawethu Smile het vir Gouws gesê dat sy nie verstaan hoekom hy die R750 wat vir ’n prokureur moes gaan en die R10 000 wat vir ’n advokaat moes gaan, vir homself sou hou nie. Vertoë in die saak sal vandag gerig word.
More
News
|