Merk jou besittings vra polisie
2005-10-06
DIE Wellington Polisie vra lede van die gemeenskap om waar moontlik hul elektriese toestelle en ander waardevolle besittings goed te merk om eienaarskap aan te dui.
Volgens kapt Carien la Grange, wat betrokke is by gemeenskapspolisiëring en misdaadvoorkoming by die Wellingtonse polisiestasie, dien die merk van besittings as afskrikmiddel vir voornemende misdadigers.
Volgens haar maak die merkproses dit ook vir die polisie makliker om die regmatige eienaar van eiendom op te spoor wanneer daar op gesteelde items beslag gelę word.
Vir hierdie doel het die polisie deur die Wellington Polisiegemeenskapsforum graveerders beskikbaar gestel aan verskeie buurtwagte in die dorp, wat inwoners behulpsaam kan wees met die merk van hul besittings.
‘n Graveerder is nou ook by die polisiestasie beskikbaar, en mense kan per afspraak reël om hul eiendom tuis deur ‘n polisielid te laat merk.
Sy stel die duidelike gravering van ‘n naam of telefoonnommer op ‘n item voor, om identifikasie makliker te maak. Gravering is meer permanent as onder meer naellak en plakkers wat mense soms vir hierdie doel gebruik.
“Ons verwittig ook alle tweedehandse handelaars in die omgewing dat eiendom in Wellington gemerk word, sodat hulle nie as afsetpunt vir verkopers van gesteelde eiendom moet dien nie.”
Die Polisie besoek ook sulke ondernemings om voorraad deur te gaan, in pogings om gesteelde goedere op te spoor en die handel daarin hok te slaan.
“Die merk van eiendom sal ‘n positiewe impak hę op misdaadvoorkoming,” glo sy.
Sy stel ook voor dat mense ‘n inventaris met serienommers hou van hul elektroniese toestelle, asook foto’s neem van waardevolle besittings, aangesien dit die opsporingsproses in gevalle van diefstal makliker maak.
Mense wat belang stel om hul besittings met so ‘n graveerder te merk, kan kapt La Grange kontak by die Wellington polisiestasie by 873-3333 om ‘n afspraak te reël sodat ‘n polisielid na ‘n spesifieke woning kan gaan om die gravering te doen.
Ondernemings word ook gevra om nog graveerders te skenk, sodat meer apparate in omloop kan wees om met die merkproses te kan help.
* Appliances should be engraved against theft.
More
News
|